Skip to main content
Afrikastudenteraad – ’n saamtrekpunt vir studente van die vasteland

Afrikastudenteraad – ’n saamtrekpunt vir studente van die vasteland

Refiloe Nkhasi
18 Mei 2019

Die Afrikastudenteraad (ASR) by die Universiteit Stellenbosch (US) is in 2012 geskep om Afrikastudente op kampus byeen te bring, verwantskap te versterk en op 'n verenigde manier vir hulle behoeftes voorspraak te doen. Sewe jaar later dien die ASR steeds as 'n platform waar Afrikastudente kan saamkom en oor relevante onderwerpe vir die vasteland kan gesels. Terselfdertyd funksioneer dit as 'n steunstruktuur wat kleiner Afrikaverenigings by die US in staat stel om met groteres te skakel.

Volgens Refiloe Nkhasi, huidige ASR-voorsitter, was die aanvanklike doel om “'n kontakpunt te bied waar die navrae van voornemende Afrika-aansoekers hanteer kon word deur Afrikastudente wat reeds by die US ingeskryf is". Deesdae is die ASR se hoofmandaat egter om bestaande Afrikastudentegemeenskappe by die US te versterk en nuwes te vestig. Vir dié doel werk die ASR ten nouste saam met die Studenteraadslid vir internasionalisering sowel as US Internasionaal om Afrikastudente by die lewe aan die US te help inskakel en tuis te laat voel. Die organisasie help studente ook verenigings stig en registreer om sodoende tot die diversiteit van die kampuslewe by te dra.

Om 'n ruimte te skep waar Afrikastudente oor belangrike kwessies kan beraadslaag en eweknieë van die vasteland kan ontmoet, bied die ASR deur die hele akademiese jaar geleenthede aan. Een so 'n geleentheid is die jaarlikse Afrikagaladinee. Hierdie hoogtepunt op die ASR-kalender bring hulde aan die kultuur, mode, kos en musiek van Afrika, en dien as 'n platform vir studente om alles te vier wat van hulle Afrikane maak.

Die ASR is boonop 'n sterk kampvegter vir Afrika-uitnemendheid en werk dus saam met US Internasionaal om die jaarlikse US/Afrika Nagraadse Finansiering vir Uitnemendheid in Kampuslewe toe te ken. Hierdie studiebeurs is beskikbaar vir Afrikastudente wat vir enige volle nagraadse graad by die US ingeskryf is. Kriteria sluit nie net akademiese prestasie in nie, maar ook deelname aan die studentelewe, en bewese leiersvaardighede, hetsy in studenteleierskapstrukture, geloofsgemeenskappe of akademiese departemente.

Kontak die Afrikastudenteraad by [email protected]

Studente van regoor die Afrika-kontinent word in die Afrikastudenteraad verteenwoordig. Van links is; Waleed Elkholy (Egipte); Jaconde Nsumbu (Demokratiese Republiek van die Kongo) en Shingi Demadema (Zimbabwe).