Skip to main content
Vyfde USAN-kongres bemagtig jong navorsers

Vyfde USAN-kongres bemagtig jong navorsers

Departement Afrikaans en Nederlands
01 Februarie 2022

Van 19 tot 21 Januarie het 26 jong navorsers in letterkunde, taalkunde en toegepaste taalkunde aan die vyfde USAN-kongres by die Departement Afrikaans en Nederlands deelgeneem.

Jong navorsers (honneursstudente wat reeds gegradueer het of binnekort hul graad ontvang, MA- en PhD-studente en nadoktorale genote) van sewe Suid-Afrikaanse universiteite (Johannesburg, Nelson Mandela, Pretoria, Stellenbosch, UWK, Vrystaat en Wits) het die geleentheid gebruik om hul navorsing aan te bied. Soos dit deesdae die norm is, het die kongres 'n hibriede formaat gehad, met ses van die aanbieders wat van elders af ingeskakel het, insluitende Triëst en Rome in Italië. Die meeste aanbieders het verkies om in persoon aan te bied en die netwerkgeleenthede wat daarmee gepaard gaan, goed te benut.

Hoofreferate is deur prof. Louise Viljoen, afgetrede kollega en bekende in die Suid-Afrikaanse literêre kritiek, en prof. Ilse Feinauer, die bekleër van die Ton en Anet Vosloo Leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk. Prof. Tina Steiner, Departement Engels, het 'n werksessie aangebied oor hoe mens 'n akademiese loopbaan bou en aanhou om navorsingsuitsette te lewer. Al drie die gedugte navorsers het sowel stof tot nadenke as inspirasie vir navorsing en publikasie verskaf.

USAN is die eerste groot geleentheid wat tydens die Departement se eeufees gehou word. 'n Baie belowende begin vir 'n jaar wat lyk of dit besonder produktief sal wees.