
Quanita se passie het haar droom aangevuur om hokkie te speel vir SA
“Ek het begin hokkie speel op die ouderdom van 10 en ek was mal oor die sport. Ek het 'n groot passie daarvoor ontwikkel omdat ek 'n natuurlike aanleg daarvoor gehad het. Teen die tyd wat ek in die hoërskool was het ek besef dat ek eendag vir die Suid-Afrikaanse span wou speel."
Dit is hoe Matie-alumna en professionele hokkiespeler Quanita Bobbs die passie beskryf vir die sport wat haar na die Somer Olimpiese Spele in Tokio, Japan, geneem het waar sy vir die Suid-Afrikaanse nasionale vroue-hokkiespan kon speel. Die Spele, wat in 2020 in Japan sou plaasvind, is herskeduleer na vanjaar weens die COVID-19 pandemie.
“Wanneer jy die nasionale jeugspanne haal, word jou droom om die volwasse nasionale span te haal nog meer werklik," voeg Bobbs by.
Bobbs het groot geword in die Suidelike Voorstede van Kaapstad. Sy is grootgemaak in 'n gesin wat betrokke was by sport – haar ma was 'n netbalspeler en haar pa was baie betrokke by hokkie. Omdat haar broer, 'n professionele sokkerspeler, in nasionale spanne uitgeblink het, het dit haar gemotiveer om haar ernstig toe te lê op haar gekose sport van hokkie.
Sy het ingeskryf vir 'n BCom-graad in Bestuurswetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US) in 2012 met Bemarking en Bedryfsielkunde as hoofvakke want sy wou haar horisonne sodanig verbreed dat sy 'n professionele loopbaan buite sport kon volg. Boonop het Bobbs besef dat die US aan haar geleenthede sou bied om haar hokkievaardighede te verbeter en sy is gekies vir Maties se eerste span in 2012.
“Maties het my die platform gebied om 'n student-atleet te wees en my sport te beoefen terwyl ek 'n opvoeding kry. Die US het baie begrip vir studente-atlete wat Suid-Afrika wil verteenwoordig," sê Bobbs.
Toe sy die nasionale vrouespan gehaal het tydens haar eerste jaar van studies het die balanseertoertjie meer uitdagend geword weens al die reise wat die span moes aanpak. In hierdie tyd moes sy dikwels haar kursuswerk voltooi terwyl sy op toer was.
As voorgraadse student aan die US het Bobbs nie regtig tyd gehad vir sosialisering en kon sy ook nie die studentelewe geniet nie weens haar sportverpligtinge en kursuswerk wat nie veel tyd toegelaat het vir ander aktiwiteite nie. Naweke is deurgebring saam met haar familie en dit was haar manier om weg te breek van haar ander verpligtinge.
Op 27 jaar het Bobbs al verskeie professionele prestasies op haar kerfstok. Sy het vir die SA o.21-span gespeel by die Junior Wêreldbeker in 2013 en 2014, sowel as by die Hokkie Wêreldbeker in Nederland en die Statebond Spele in Glasgow, Skotland in 2014. Nadat sy haar graad behaal het aan die US het sy vir een seisoen vir Holcombe Hokkieklub in Kent, Engeland, gespeel en in 2019 vir 'n hokkieklub in Bremen, Duitsland, gespeel.
Afgesien van haar professionele hokkieloopbaan werk Bobbs in die digitale bemarkingsruimte vir klein bemarkingsagentskappe in Suid-Afrika. Sy noem dat haar werkgewers nog altyd haar sport ondersteun het en haar toegelaat het om haar terselfdertyd toe te lê op haar professionele hokkieloopbaan. Sy beskou dit as 'n groot seëning.
Bobbs raai jong studente en atlete wat hul drome najaag aan om te onthou “tyd is baie kosbaar".
“Maak die meeste van jou tyd en moenie tyd mors met dinge wat nie bydra tot jou persoonlike groei nie."
Bobbs vertel dat sy baie opgewonde was om die hokkieveld te betree al is sy reeds die afgelope nege jaar in die nasionale span. “Ek was steeds baie opgewonde om deel te wees van hierdie proses en om die groen en goud te dra."