Skip to main content
Wat neem dit om ’n bedreigde habitat te red of ’n bedreigde spesie van die rand van uitwissing terug te kry?

Wat neem dit om ’n bedreigde habitat te red of ’n bedreigde spesie van die rand van uitwissing terug te kry?

Prof. Karen Esler
14 Julie 2022

Hierdie is die kritiese vraag wat deur ’n samewerkende span navorsers en praktisyns gevra word in hulle jongste rondte van befondsing. Aan die kern hiervan is ’n samewerkende vennootskap – bestaande uit navorsers van die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Kaapstad – wat sedert 2012 fokus op die restourasie van die habitat en spesies van laagland-fynbos. Die gebied waarop hulle fokus, die Kaapse Vlakte sandfynbos (Cape Flats Sand Fynbos (CFSF)), is ’n kritiek bedreigde tipe plantegroei in die Kaapse Floristiese Streek van Suid-Afrika wat bedreig word deur habitatverlies en indringing deur uitheemse bome. Die primêre doelwit van hierdie langtermyn vennootskap is om te verseker dat die unieke biodiversiteit van hierdie ekosisteem, wat beperk is tot die Stad Kaapstad, toepaslik tot sy voormalige glorie gerestoureer word. Die jongste toekenning, ’n Anglo American 2021 Natuurpositief Toekenning (Nature Positive Grant), verteenwoordig die derde fase van die samewerkende operasionele en akademiese navorsing (2022-2025) wat hoofsaaklik op die Blaauwberg Natuurreservaat gefokus is. Hier reservaat is ’n bewaringsgebied noord van die Stad en behels 1 500 ha van laagland plantegroei, insluitend 500 ha van kritiek bedreigde Kaapse Vlakte sandfynbos, die meerderheid waarvan erg degradeer is deur digte opstande van die uitheemse Australiese akasia, Acacia saligna. Deur die samewerkende vennootskap met die Stad sal proff Karen Esler en Patricia Holmes (Dept. Bewaringsekologie en Entomologie) met tuinboukundiges van die US Botaniese Tuine, Vula Environmental Services en FynbosLife saamspan om op drie breë aspekte saam te werk. Die eerste is om die grootskaalse voortplantingsuikomste van spesies wat nie in vorige pogings van direkte saai in die gerestoureerde Kaapse Vlakte sandfynbos-habitat goed gevaar het nie, te optimaliseer. Tweedens, om ondersoek in te stel na hoe saadbedekkingstegnologie kan help om hindernisse met betrekking tot die vestiging van veldgesaaide saad te oorkom. Hierdie tegnologie is reeds op groot skaal in Australië en die VSA gebruik om restourasie-uitkomstes te verbeter, veral in droogland. En derdens om die optimale voortplantingstegnieke vir Spesies van Bewaringskommer te ondersoek met die doel om nuwe subpopulasies in die veld te vestig. Die Kaapse Vlakte sandfynbos is ryk in endemiese plantspesies (16) en Rooi Lys bedreigde spesies (108), dus sal verbeterde spesie-restourasie die vlakke van bedreiging vir sommige van hierdie spesies kan verminder. Elkeen van hierdie projek se suksesse sal die gety van biodiversiteitsverlies kan verminder, en dus ’n beduidende bydrae tot die restourasie van die sandfynbos-ekosisteem kan maak. Voordele soos hierdie sal ons help om nader te beweeg aan ’n beoogde Natuur Positief-doelwit: dat die mensdom meer waarde by die natuur sal kan voeg as wat ons onttrek.Die span is tans op soek na ’n geskikte student met ’n Honneursgraad (vir ’n MSc) of MSc (vir ’n PhD) in plantekologie en inheemse tuinbou; as dit klink soos iets waarin jy belangstel en jy kwalifiseer daarvoor, kontak asseblief vir professor Esler, [email protected], vir meer inligting oor hoe om aansoek te doen. Aansoekers moet groot belangstelling toon in restourasie-ekologie, en ervaring in plantegroei-opname, voortplantingstegnieke en saadtegnologieë sal tot hulle voordeel strek. ’n Geldige bestuurslisensie is noodsaaklik.