
Talle medaljes vir Maties Parasport-atlete
Verskeie lede van die Maties Parasport-klub het verlede week by die Nedbank Nasionale Kampioenskap vir persone met gestremdhede nasionale kampioene in hul onderskeidelike dissiplines geword en sommige het selfs Paralimpiese kwalifiserende tye of afstande behaal.
Die byeenkoms het van 18-24 Maart in Bloemfontein plaasgevind.
Maties Parasport-klub is deur 29 lede in die Westelike Provinsie-span in drie sportkodes – atletiek, swem en fietsry – verteenwoordig.
Drie Matie-atlete het die vereiste tye en afstande vir die Rio Spele in twee items elk behaal – Ilse Hayes (T13, 100m en 400m), Dyan Buis (T38, 100m en 400m) en Arnu Fourie (T44, 100m and 200m) – terwyl Zanele Situ (F54, spiesgooi), Reinhardt Hamman (F38, spiesgooi), Charl du Toit (T37, 400m) en Fanie van der Merwe (T37, 100m) dieselfde in een item elk gedoen het.
Matie-atlete het 'n indrukwekkende aantal medaljes op die baan en die veld gewen. Veelvuldige medaljewenners sluit in Hayes (drie goue medaljes), Brandon Beack (drie goue medaljes), Elna Dürr en haar gids Melissa Viljoen (twee goue medaljes), Lean Simon (twee goue medaljes), Kerwin Noemdo (twee goue medaljes), Zanele Situ (twee goue medaljes), Arnu Fourie (twee goue medaljes), Wesley Grant (twee goue medaljes), Dyan Buis (twee goue medaljes), Thabo Dube (een goud- en een silwermedalje) en Ruhan van Rooyen (een goud- en een silwermedalje).
Hamman, Du Toit en Van der Merwe het een goud elk gewen.
Dit was 'n bittersoet week vir Van der Merwe wat aan sy laaste nasionale kampioenskap deelgeneem het op die baan waar sy atletiekloopbaan begin het. Hy het in 13 opeenvolgende nasionale kampioenskappe deelgeneem en meer as 20 goue medaljes op hierdie vlak verower.
Sy afrigter, dr Suzanne Ferreira, beskryf hom "as 'n legende met 'n nalatenskap veel groter as sy prestasies by hierdie kampioenskap".
"Dit was 'n voorreg om my SA Kampioenskap-loopbaan in Bloemfontein, waar dit alles begin het, af te sluit," het Van der Merwe aan Road to Rio gesê.
"Ek sien uit na die res van my pad na Rio. Dit is so 'n voorreg om een laaste geleentheid te hê om alles te gee wat ek het, maak nie saak wat die uitslag is nie.
"Ek is besonder geseën en sien uit daarna om atlete deur die Inspired2Become-program af te rig en te mentor en hande met ander te vat om die evangelie van Jesus Christus te deel."
Wentzel Barnard, bestuurder van die Maties Parasport-klub, was baie in sy skik met die atlete se uitslae en aangenaam verras deur sommige van die nuwelinge se uitmuntende prestasies.
Hy het spesifiek na die SA rekords verwys wat deur Beack (T52-rystoelwedren) en Dube (F57, diskus) opgestel is. Carli Pretorius (F38, diskus en gewigstoot, meisies o.18) het ook verras met haar uitslag en Jodine Scott, wat WP vir die eerste keer verteenwoordig het, het goud in die verspring (F37) gewen.
Afrigter Karin le Roux glo Beack en Dube is atlete om in die toekoms dop te hou.
Willem Venter, wat onlangs by Universiteit Stellenbosch sy MSc-graad in rekenaarwetenskap ontvang het, was 'n lid van die Boland-doelbalspan wat silwer gewen het.