Skip to main content
BSc alumni: Voorpunt-wetenskap en goeie herinneringe

BSc alumni: Voorpunt-wetenskap en goeie herinneringe

Media & Communication, Faculty of Science
29 Maart 2016

'n Handjie vol BSc-alumni en hul gesinne is onlangs getrakteer op een van twee begeleide toere: een van die  laboratorium in die Department Fisika waar met vasgevangde ione geëksperimenteer word; of die ander na die werk wat onder die vaandel van die SARChI navorsingsleerstoel in Gevorderde Makromolekulêre Argitekture in die Department Chemie en Polimeerwetenskap gedoen word.

Die toere het deel uitgemaak van die Fakulteit Natuurwetenskappe se program gedurende die Universiteit Stellenbosch se eerste tuiskomsnaweek vir alumni wat op 4 en 5 Maart 2016 plaasgevind het.

'n Ander groep alumni het 'n lesing bygewoon oor die werk wat gedoen word in die Departement Plant- en Dierkunde ter bewaring van Suid-Afrika se grootwithaaibevolking.  Een van die sprekers was Michael Rutzen, die welbekende bewaringskundige en een van die min mense ter wêreld wat saam met witdoodhaaie duik sonder die beskerming van 'n haaihok.

Na afloop van die tuiskomsverrigtinge het mev. Annette Evans, wat haar BSc in die 1960s verwerf het, die fisici en in die besonder vir dr. Hermann Uys bedank vir sy vriendelikheid, geduld en weldeurdagte manier van kommunikasie deur middel waarvan hy fassinerede wetenskap  verduidelik het.

Mnr. Ian Auret van Kaapstad, het spesifiek die besoek aan die personeelkamer in die Merensky Gebou waardeer: "Baie dankie vir die geleentheid om my ou fakulteit te kon besoek. Na ongeveer 42 jaar het die besoek wonderlike ou herinneringe opgeroep,"skryf hy in ''n e-pos.

Dr Bjorn von der Heyden, tans 'n dosent in Aardwetenskappe by die US, het na aanleideing van die lesings oor die grootwithaaie vir meer sulke geleenthede gevra: "Ons het meer gesprekke nodig wat só insiggewend, wetenskaplik gefundeerd en relevant tot die samelewing is."

Terugvoer op die toer na Prof. Bert Klumpermann se laboratorium in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap het gewissel van "indrukwekkend" tot "ek sou beslis hierdie rigting oorweeg het indien ek weer met my studies kon begin".

Mev. Yvonne de Lange van Kaapstad het gesê sy het die chemie departement se sessie geweldig interessant gevind: "Ek is trots om myself 'n alumni van hierdie departement te noem."

Verskeie van die BSc-alumni het ook Science Café Stellenbosch​ gedurende die Woordfees op 8, 9 en 11 Maart bygewoon. By hierdie geleenthede het die bekende omgewingskundige Dave Pepler in gesprek getree met navorsers oor onderwerpe soos die menslike mikrobioom, die menslike sel, en die evolusie van velkleur. Science Café Stellenbosch is 'n inisiatief van die Fakulteit Natuurwetenskappe om openbare gesprek oor wetenskapskwessies aan te moedig.

Hou 2017 se Woordfeesprogram dop vir Science Café Stellenbosch, asook die US se eeufeesvieringe in 2018 vir soortgelyke geleenthede.