
Bou die Suid-Afrika waarvan Nelson Mandela gedroom het
Politieke onverdraagsaamheid, geen vertroue in die regering nie en rassisme. Hierdie is slegs 'n paar probleme waarmee Suid-Afrikaners sukkel en die Vrygebore generasie herinner hulle daagliks aan die onvervulde beloftes van oor die twee dekades gelede. Selfs Nelson Mandela kom onder die loep en die Grondwet word as 'n hindernis vir transformasie beskou.
Prof Amanda Gouws, dosent en navorser by Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Politieke Wetenskap, sê die Suid-Afrika waarvan Nelson Mandela gedroom het, moet nog gebou word.
Sy het 'n rede gelewer tydens die Nelson Mandela Kollokwium die afgelope week (30 Maart 2016) by US se Stellenbosch kampus.
"Hierdie is nié die Suid-Afrika waarvan Nelson Mandela gedroom het nie. Wat het verkeerd geloop," vra prof Gouws.
Sy lig uit dat selfs met een van die mees progressiewe grondwette in die wêreld en 'n parlement met die meeste vroue in die wêreld, verkeer Suid-Afrika tans in 'n baie onstabiele tyd.
"Die nuwe generasie bring dit vir ons tuis dat die liggaam ook baie belangrik is. Die liggaam is die beliggaaming van mense se ervaring. As jou liggaam swart of dié van 'n vrou is, het jy baie anderse ervaring van die wêreld as wanneer jou liggaam wit of dié van 'n man is. Hierdie generasie plaas 'eie ervaring' in die middel van hul omgang met die wêreld. Jong vroue, meestal swart jong vroue, is aan die voorpunt om te sê tweederangse burgerskap is nié aanvaarbaar nie."
Bradley Frolick, SR-lid vir Transformasie, wat ook 'n rede gelewer het, sê herinnering en menseregte is onafskeidbaar vervleg aangesien dit wat ons herinneringe is, word daagliks beleef en is 'n onderdrukking van ons wese.
"Herinnering en menseregte moet dus as een beskou word. Om die twee te versoen, sal ons na die verwesenliking lei van die samelewing waarvan ons praat. Vir so lank as wat redelike en dringende eise van die onderdruktes met arrogansie begroet word, sal ons nooit 'n funksionerende samelewing hê nie – nie op universiteitsvlak of op 'n nasionale vlak nie."
Hy sê universiteite veral het geïsoleerde plekke geword waar slegs diegende wat as 'waardig' beskou word aktief kan deelneem. Hy voeg by dat dit aanvaar word dat individue in die omgewing daar is sonder enige struikelblokke – in kort: dit is 'n plek ver verwyderd van die werklikhede van die Suid-Afrikaanse samelewing.

