
Alumni van die Fakulteit ontvang gesogte beurse om by Oxford te studeer
Hierdie artikel het in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se digitale publikasie, VIVUS, verskyn. Besoek www.sun.ac.za/FGGWpublikasies om in te teken.
Twee graduandi van die MB,ChB-klas van 2013 van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) – dr Jonas Bovijn en dr Kirsten Rowe – is gekies as Rhodes-beurshouers vir 2016.
Hierdie gesogte toekennings word gemaak aan studente van regoor die wêreld wat op verskeie vlakke presteer. Beurshouers kan vir ʼn tydperk van tot drie jaar lank nagraadse kursusse aan die Oxford Universiteit studeer. Dit bied geleenthede aan jong mense wat uitmuntende intellek, karakter, leierskap en toewyding aan dienslewering toon, om hulself te ontwikkel.
Bovijn en Rowe het gekwalifiseer vir die Rhodes-beurse wat aan sekere bekende Suid-Afrikaanse skole toegeken word. Hierdie geleenthede is beskikbaar aan voormalige leerders van aangewese skole wat in vier groeperings ingedeel is.
Vanjaar is twee van die vier toekennings aan alumni van die FGGW gemaak. Bovijn het die toekenning in die groep van Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch en die vennootskole Rhenish Meisies Hoërskool en Bloemhof Meisies Hoërskool ontvang, en Rowe was die wenner in die groep van die Suid-Afrikaanse Kollege Skool (SACS) in Nuweland en die vennootskole Sans Souci Meisies Hoërskool en Rustenburg Meisies Hoërskool.
Bovijn is oorspronklik in België gebore en het na Suid-Afrika verhuis toe hy agt jaar oud was. Hy was in 2007 Paul Roos Gimnasium se Dux-student en het die tweede plek behaal in die Wes-Kaapse Seniorsertifikaat-eksamen. Jonas het sy mediese graad cum laude behaal, en elke jaar heel bo aan die klas se puntelys geëindig. Hy is in 2013 aangewys as die ontvanger van die Universiteit Stellenbosch se Kanseliersmedalje as beste finalejaarstudent.
Hy het as student hokkie vir die mediese span gespeel, die New England Journal of Medicine se 200ste herdenkingsimposium in Boston in Amerika bygewoon en was betrokke by ʼn groot verskeidenheid kampus-inisiatiewe. Hy was stigterslid en voorsitter van die eerste studentevereniging wat voorgraadse navorsing aan die FGGW bevorder.
Hy het al van sy navorsing by ʼn internasionale kardiologie kongres aangebied, het in die Suid-Afrikaanse Mediese Joernaal gepubliseer en is tans steeds betrokke by verskeie navorsingsprojekte. Hy dien ook op voorgraadse navorsingskomitees by die Fakulteit en is tans ʼn medeleier van ʼn inisiatief wat junior mediese navorsers in Suid-Afrika wil ondersteun.
Bovijn beplan om ʼn D-Phil (PhD) in Kardiovaskulêre Geneeskunde by die Oxford Universiteit te doen en wil ʼn loopbaan as kliniese navorser in die akademie volg.
Rowe het in Kaapstad grootgeword en was die Dux-student van Rustenburg Meisies Hoërskool. Hoogtepunte tydens haar skoolloopbaan was onder meer om as voorsitter van die Christelike Vereniging op te tree, om die Eskom Wetenskap-expo se Toekenning vir die Beste Vrou in Wetenskap te ontvang en om die Elizabeth Sole-beker vir sang te ontvang.
As ʼn mediese student het sy ʼn sleutelrol gespeel om volhoubaarheid te bevorder deur komitees vir omgewingsake op kampus te stig. Sy was ʼn lid van die Huis Francie Kleinsêr-groep en die Stellenbosch Universiteitskoor, wat deur Interkultur as die nommer een koor in die wêreld beskou word. Sy het as vrywilliger werk gedoen onder kinders in informele nedersettings wat deur MIV geraak word, het aan verskeie landelike mediese uitreike deelgeneem en die toekenning vir die Beste Landelike Elektief ontvang. Sy het ook Akademiese Erekleure ontvang omdat sy vier aaneenlopende jaar met onderskeiding geslaag het.
Rowe het in BMC Mediese Etiek en die Suid-Afrikaanse Mediese Joernaal gepubliseer, en in 2013 by die PHASA/AFPHA kongres aangebied. Sy voltooi tans haar mediese internskap in Oos-Londen.
Sy beplan om in te skryf vir ʼn MSc in Internasionale Gesondheid en Tropiese Geneeskunde en dit op te volg met ʼn MBA in Maatskaplike Entrepreneurskap. Sy het ʼn passie vir gemeenskapsgesondheid en beplan om ʼn maatskaplike onderneming wat met gesondheid verband hou te begin.
ʼn Doelwit van die Rhodes-beurse is dat beurshouers sal ontluik as ‘leiers van die wêreld se toekoms’ wat die ‘wêreld se probleme sal aanpak’. Beide Bovijn ([email protected]) en Rowe ([email protected]) is bereid en geneë om mediese studente wat belangstel om aansoek te doen vir verdere nagraadse studie of beurse, te help en te mentor.
Foto: Drr Kirsten Rowe en Jonas Bovijn is gekies as Rhodes- beurshouers vir 2016