
US Ingenieurswese-pionier se agterkleindogters kry saam-saam hul doktorsgrade
Twee agterkleindogters van een van die Universiteit Stellenbosch se pioniers het saam-saam hul doktorsgrade gedurende die instelling se April-gradeplegtighede ontvang. Hulle is dr Jeanne Brand, 'n kenner oor die sensoriese aspekte van wyn, en haar niggie, kliniese sielkundige dr Derine Louw. Hul oupagrootjie, professor JM (Jimmy) le Roux, was in die 1940's een van die twee personeellede van die Fakulteit Ingenieurswese.
Die geluk was aan die niggies se kant, want die plegtighede waartydens doktorsgrade aan studente in die Fakulteit AgriWetenskappe en die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe oorhandig is, het vanjaar op 2 April saamgeval.
Dr Brand het navorsing gedoen oor die beste maniere waarop mens redelik vinnig 'n sensoriese profiel oor wyne kan opstel. Dr Louw het 'n PhD in Psigiatrie ontvang vir 'n studie oor die behandeling van mense wat aan trichotillomanie of haaruittreksteuring ly.
Die niggies is die eerste van Le Roux se agterkleinkinders wat doktorsgraad verwerf het. Daarmee het hulle 'n trotse akademiese familiegeskiedenis aan die Universiteit voortgesit.
Prof Le Roux was 'n inwoner van Dagbreek manskoshuis en het tussen 1922 en 1926 aan die US studeer. Hy het op 28-jarige leeftyd sy eie doktorsgraad behaal. Hy was die skoolhoof van Hoërskool Franschhoek voordat hy in 1940 saam met professor Harry Reitz aangestel is om 'n graadkursus in ingenieurswese aan die US op die been te bring.
Prof Le Roux het weldra die Departement Toegepaste Wiskunde aan die US tot stand gebring. 'n Bronsplaatjie in die Algemene Ingenieursgebou huldig nog sy bydrae. Sy skoonseun, prof Jacobus Marius Louw, het ook siviele ingenieurswese klas gegee. Hy is Brand en Louw se oupa.
Die fyner kunsies van wynprofiele
Dr Brand se doktorsgraad in wynbiotegnologie is 'n natuurlike uitvloeisel van haar dagtaak as personeellid van die Fakulteit AgriWetenskappe. Sy is reeds sedert Augustus 2011 deel van die US Departement Wingerd- en Wynkunde, en aan die stuur van die Sensoriese Laboratorium. Dis waar panele wynproeër bymekaar kom om spesifieke wyne wat deel is van die Departement se opleidings- en navorsingsprojekte te proe, te evalueer en te beskryf.
“In die voedsel- en drankbedryf is daar 'n groeiende aanvraag na koste-effektiewe profileringsmetodes waarmee mens redelik vinnig 'n sensoriese profiel kan opstel oor hoe iets soos wyn of kos ruik, proe en lyk," verduidelik sy.
Sy sê wyn is nie so maklik om te sensoriese te beskryf nie, omdat daar soveel kompleksiteite daaraan verbonde is. Dr Brand het daarom vier verskillende metodes getoets waarvolgens wyne redelik vinnig deur sensoriese panele getoets en beskryf kan word. Sy het elkeen teenoor mekaar opgeweeg in terme koste-effektiwiteit en hoe bruikbaar hulle vir mense in die wynbedryf en vir navorsingsdoeleindes sou wees.
“Dis belangrik om die regte wynprofileringsmetode te kies, op grond van die eksperiment wat jy wil doen," glo sy. “Mens moet ook opweeg hoe prakties elkeen is, en wat hul beperkinge is."
Haar studies het veral twee metodes uitgelig wat proepanele die beste toelaat om vinnig tussen produkte te onderskei: die CATA-metode en sortering.
Met CATA (wat staan vir 'check-all-that-apply") word 'n lys van eienskappe aan mense wat deel is van sensoriese proepanele verskaf. Hulle moet dan hul keuses daarvolgens maak. Met sortering word al die produkte aan 'n proepaneel gegee. Hulle moet dit dan sorteer volgens die verskille en ooreenkomste tussen die produkte in terme van sensoriese eienskappe soos smaak en aroma.
Dr Brand se navorsing is gedoen onder leiding van dr Hélène Nieuwoudt van die US Departement Wingerd- en Wynkunde, prof Tormod Næs van die Universiteit van Nofima in Noorweë, en prof Dominique Valentin van die Universiteit van Boergondië in Frankryk.
Dr Brand het al haar kwalifikasies in chemie en wynbiotegnologie aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Sy woon tussen Stellenbosch en die Paarl, nadat sy in Stellenbosch en die Suid-Vrystaat groot geword het. Sy het in 1998 aan Hoërskool Hopetown gematrikuleer.
Die behandeling van mense wat hul hare uittrek
Dr Louw werk reeds sedert 2010 by Stikland Hospitaal in die Kaap as senior kliniese sielkundige. Sy is ook 'n dosent aan die Universiteit Stellenbosch en bied opleiding aan voornemende psigiaters, kliniese sielkundiges, mediese studente en diegene wat dieetkunde studeer.
Vir haar doktorsgraad in psigiatrie het sy gefokus op die behandeling van 'n toestand genaamd trichotillomanie of haaruittreksteuring. Mense wat daaraan ly, trek onophoudelik aan hul hare, sodat hul hare later baie uitgedun lyk en daar selfs kaal kolle op hulle kopvel sigbaar is.
“Die gevolge daarvan ly weer tot verdere spanning onder pasiënte," verduidelik dr Louw, wat reken dis nie 'n maklike toestand om te behandel nie.
Sy het gewys dat 'n bestaande kognitiewe opleidingsprogram wat met sukses reeds vir ander toestande gebruik is, ook tot voordeel van trichotillomanie-pasiënte kan wees.
Sestien trichotillomanie-pasiënte het oor 'n kwessies van vyf weke aan 25 sessies deelgeneem. Dit het hulle gehelp om hul werksgeheue te verbeter en het die breinpaaie versterk wat mense help om impulse te beheer. Die gevolg was dat hulle die behoefte wat hulle gevoel het om hul hare uit te trek, kon beheer. Dr Louw kon dus gewys dat die bestaande program ook vir trichotillomanie -pasiënte gebruik kan word.
“Die behandeling het vrugte afgewerp, selfs drie maande nadat die sessies voltooi is," vertel dr Louw. “Omdat daar so baie sessies nodig is, is dit ongelukkig egter 'n redelike duur vorm van behandeling. Dit kan egter aanlyn gedoen word, wat reistyd uitsny en beteken dat mense dit ook na ure kan doen."
Haar studieleiers was prof Christine Lochner van die US Departement Psigiatrie en prof Dan Stein van die Universiteit van Kaapstad se Departement Psigiatrie. Albei is verbonde aan 'n eenheid van die Mediese Navorsingsraad wat fokus op die risiko's en uitdagings van geestestoestande.
Dr Louw, wat in Durbanville woon, het aan Hoërskool Sentraal in Bloemfontein in 2000 gematrikuleer en het daarna aan die Universiteit Stellenbosch, UNISA en die Universiteit van die Vrystaat haar voorgraadse en nagraadse kwalifikasies behaal. Dit sluit kwalifikasies in spelterapie en kliniese sielkunde in.
Foto onderskrif: Dr Derine Louw (met blonde hare) en dr Jeanne Brand is die eerste agterkleinkinders van een van die eerste stigterslede van die Fakulteit Ingenieurswese, prof JM le Roux, om doktorsgrade aan die Universiteit Stellenbosch te verwerf.