
'n Dag in die lewe van: Ricardo Isaacks
As senior assistent in die posafdeling van die Universiteit Stellenbosch (US), sien Ricardo Isaacks toe dat duisende inkomende en uitgaande briewe, posstukke en belangrike dokumente hulle bestemming bereik. Met byna 27 jaar diens aan die US, is hy behoorlik gekonfyt in sy rol, wat onder die Sentrum van Studente-administrasie in die Registrateursafdeling val.
Aangesien Mei met die viering van Werkersdag begin het, wy ons hierdie reeks artikels aan ons personeellede en hulle belangrike bydrae tot die Universiteit. Ons het Ricardo gevra om ons meer van sy werk te vertel.
Wat behels jou rol aan die US?
Ek is baie ernstig oor my werk. My rol is om alle inkomende en uitgaande pos te hanteer, en te verseker dat belangrike dokumente by hulle bestemming uitkom. Ons werk stem 80% ooreen met dié van die Poskantoor, maar met ekstra pligte soos administratiewe take en navraaghantering. Ons help ook met dokumente in eksamentye en vir gradeplegtighede.
Voor die pandemie het ons elke maand 5 000 tot 7 000 posstukke, waaronder gradepos, uitgestuur. Dít sluit die jaarlikse duisende koshuiseerstejaarsbriewe uit, wat met massapos gestuur word. Deesdae is die pos baie minder, want mense verkies elektroniese versending. Ons hanteer nog sowat 1 000 posstukke per maand.
Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?
'n Tipiese dag in die poskamer behels die hantering van navrae en pos, waaronder graadversendings. Ons help ook ander afdelings in die Registrateursafdeling om hulle dokumente en pos te kry of te stuur. Dit raak nogal besig, en dan is dit 'n uitdaging om al die werk voor die einde van die dag af te handel.
Hoe het jou studie of vorige ervaring jou vir hierdie pos voorberei?
Ek het myself geleer wat ek vandag weet. Met kursusse en programme van die Universiteit kon ek my kennis van verskeie administratiewe en logistieke take verbreed en sukses behaal in my werk. Ons voorgangers het nie destyds tyd gehad om ons te leer hoe dinge in die posafdeling werk nie. Ons moes maar op ons eie leer en self alles uitpluis.
Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?
Ek is dankbaar vir my werk en wil graag elke dag beter doen as die vorige dag. Elke dag hou sy eie uitdagings in, maar aan die einde weet ek ek het my bes gedoen. Ek geniet dit om my medemens te help, met respek te hanteer, en na hulle stories te luister. Elke dag is daar iets nuuts om mekaar te vertel.
Vertel ons iets van jouself wat min mense sou verwag?
Ek het 'n passie daarvoor om met studente te werk, veral by sokkergeleenthede. Ek behartig tans die administrasie en sekere logistieke reëlings vir 'n buitesokkerklub en is ook betrokke by die Universiteit se personeelsokkerspan. En ek was baie jare lank afrigter van Maties Sokker.