
Eerstejaar FGGW-studente verwelkom tydens historiese seremonie
Geskiedenis is verlede week by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) gemaak toe ʼn vroue dekaan vir die eerste keer eerstejaar studente by die Tygerberg-kampus verwelkom het.
Hierdie nuwe groep mediese studente sal ook die eerstes wees wat opgelei word volgens ʼn innoverende nuwe MBChB-kurrikulum wat vanjaar in die mediese program geïmplementeer word.
“Ons deel ʼn aantal eerstes," het die nuwe dekaan, prof Elmi Muller, aan die 510 eerstejaar studente by die FGGW gesê. “As die nuwe dekaan van die fakulteit is hierdie groep eerstejaars baie spesiaal vir my. Vandag is julle eerste dag by hierdie fakulteit, en ek wil my opgewondenheid met julle deel."
Muller, ʼn vername oorplanting-chirurg wat op 1 Januarie vanjaar die rol van FGGW-dekaan betree het, het die herinnering van haar eerste dag van mediese skool meer as drie dekades gelede gedeel, en herroep hoe opgewonde en angstig sy gevoel het tydens haar intrede tot die mediese wêreld. Sy het die studente herinner aan die gesegde: “ʼn reis van 1 000 myl begin met ʼn enkele tree", en hulle verseker dat dit die moeite werd is.
“Gesondheidsorg is ʼn lewenslange reis, en dit is baie bevredigend aangesien ons baie mense se lewens raak. Mense wat sou gely of sterf gesterf het, of wie se gehalte van lewe verbeter as gevolg van ons intervensies," het Muller gesê.
Sy het gesê dat die Covid-19-pandemie weereens die belangrike rol wat gesondheidsorgwerkers in die samelewing speel beklemtoon het, en sy het studente verseker dat hulle opleiding by van die voorste gesondheidsorg-beroepslui in die land sal ontvang, om hulle vir hierdie belangrike taak voor te berei.
Visekanselier en Rektor, prof Wim de Villiers, het ook die seremonie bygewoon en die eerstejaar studente geluk gewens met hul akademiese prestasie, ondanks die uitdagings van Covid-19, wat vir hulle ʼn plek verseker het in een van die fakulteit se mediese- en gesondheidswetenskappe- programme.
“Om toelating by die US te kry is ʼn groot prestasie, en ek wil julle gelukwens daarmee. Daar is duisende jongmense regoor die land, in werklikheid, reg oor die wêreld, wat droom daarvan om in jou skoene te wees," het De Villiers gesê.
“Die grootste glorie van die lewe is nie om nooit te val nie, maar om op te staan elke keer as ons val." Met hierdie gesegde van die wyle President Nelson Mandela, het De Villiers studente aangemoedig om gefokus te bly op hul doelwit om eendag gesondheidswerkers te word.
“Onthou dat julle nie alleen is op hierdie reis nie. Ons het uitgebreide netwerke wat ondersteuning kan bied... ons wil hê dat julle suksesvol moet wees, en ons wil julle help om julle drome te bewaarheid."
Hy het ook die studente aangemoedig om ingeënt te word teen Covid-19. “Onthou – geen 'jab', geen jol!" het hy gespot.
Mnr Vhudi Ravhutsi, voorsitter van die Tygerberg Studenteraad, het die eerstejaars verwelkom as deel van die Tygerberg-gemeenskap en hulle aangemoedig om die diversiteit en ervarings wat die kampus bied, aan te gryp.
Ravhutsi, ʼn vyfdejaar mediese student, het die nuwelinge vertel dat afkomstig is van ʼn klein dorpie in Limpopo, en heeltemal uit sy gemaksone gevoel toe hy aanvanklik by die Tygerberg-kampus aangekom het. “Dit was glad nie maklik nie. Ek moes met mense omgaan van allerhande verskillende lewenslope, met verskillende waardes en verskillende uitkyke op die lewe as ek... Ek het baie geleer, en afgeleer, maar dit het my die mens gemaak wat ek nou is. Ek raai elkeen van julle aan om uit julle gemaksones te kom en hierdie verandering te verwelkom."
In aansluiting met De Villiers, het Ravhutsi ook die studente aangemoedig om uit te reik vir hulp en goed vir hulleself te sorg, op elke vlak van welstand.
Hy het hulle met die volgende gedagte gelaat: “Een ding wat jy na aan jou hart moet hou, is jou identiteit. Dit is baie maklik om jouself te verloor terwyl jy probeer inpas by die res van die groep. Ofskoon heruitvinding en groei baie belangrik is, is jou identiteit iets waarop jy moet trots wees. Ek is trots op my agtergrond en identiteit. Jy het nou net ʼn baie diverse omgewing betree, en dit is baie inspirerend om die ryk diversiteit van trotse kulture te sien."
Dr Therese Fish, FGGW Vise-dekaan: Kliniese Diens en Sosiale Impak, het die eerstejaar studente aangespreek oor die belangrikheid om etiese en verantwoordelike gesondheidsorg te praktiseer. “Dit is ons verantwoordelikheid as ʼn gesondheidswetenskappe fakulteit om julle te lei sodat julle ontwikkel in bevoegde, selfversekerde en deernisvolle gesondheidsberoepslui wat bewysgebaseerde gesondheidsorg sal beoefen," het Fish gesê.
Sy het aan die studente verduidelik dat die Hippokratiese Eed vir gesondheidsberoepslui aangepas en gemoderniseer is oor die jare en dat die FGGW sy eie interprofessionele eed ontwikkel het wat graduandi elke jaar aflê. “Vir ons as gesondheidsberoepslui is die eed belangrik aangesien dit as gids dien vir ons gedrag as professionele beroepslui en ons waardes voorstaan. Internasionaal het baie gesondheidswetenskappe fakulteite en mediese skole ook ʼn aanvangseed geïmplementeer, wat as gids dien vir studente tydens hulle opleiding."
Ter afsluiting was die aanvangseed vir eerstejaar FGGW-studente in elk van Suid-Afrika se 11 amptelike tale voorgelees.