
WOW Spelfees lewer die land se top spellers op
Die beste Afrikaanse spellers in die land woon in die Wes-Kaap. In die nasionale eindronde van die 2019 Sanlam WOW Spelfees, wat Saterdag, 19 Oktober by die Universiteit Stellenbosch gehou is, het die Wes-Kaap 11 van die 30 wenners opgelewer, terwyl die Noord-Kaap vyf leerders onder die top-30 gehad het. Verlede jaar was die Noord-Kaap eerste en die Wes-Kaap tweede. Vir Afrikaans Huistaal word dié nasionale spelkompetisie van graad 1 tot 10 aangebied. Die algehele wenners in Graad 2, 5, 6 en 7 was almal Wes-Kapenaars.
Altesame 376 leerders van 187 skole regoor Suid-Afrika het deelgeneem aan die nasionale eindronde. Leerders het spelkragte gemeet in Afrikaans Huistaal (r 1–10) en Engels Eerste Addisionele Taal (Gr 6–9).
Die finaliste het deurgedring in 'n reeks uitdunne wat gedurende die jaar reg oor die land aangebied is.
WOW ondersteun meertaligheid en vanjaar het 84 leerders uit die Noord-, Oos- en Wes-Kaap aan die Sanlam WOW Spelfees vir Engels Eerste Addisionele Taal deelgeneem. Sedert 2017 bied WOW 'n Xhosa-spelfees vir graad 6 en 7 in vier distrikte van die Wes-Kaap aan. Vanjaar is 'n spelfees ook vir graad 3 in een van die Wes-Kaapse distrikte van stapel gestuur.
In die afdeling vir Engels Addisionele Taal het leerders van graad 6 tot 9 meegeding en hier was dit weer die Wes-Kapenaars wat uitgeblink het. Vyf van die top-twaalf kom uit die Wes-Kaap en vier uit die Oos-Kaap.
“Elke keer dink ek die standaard is vreeslik hoog, maar dan oortref die leerders hulself," het Fiona van Kerwel, projekbestuurder van WOW gesê. “Ek is opgewonde oor die lekker probleem om woorde te vind wat vir leerders uitdagend genoeg sal wees en wat reg sal laat geskied aan hul spelvermoë. Maar gelukkig is Afrikaans 'n ryke taal. Ons woorde sal nie opraak nie."
Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees en WOW-projek, beaam dit: “Die standaard was vanjaar selfs nog hoër – met leerders wat tot 80 rondes se woorde moes spel voor almal behalwe die wenner uitgeval het. Die kompetisie het ook gegroei. Oor die 700 skole het vanjaar aan die Sanlam WOW Spelfees deelgeneem. Dit beteken meer as 'n honderd skole landwyd het bygekom en neem nou ook deel."
Wenners het elkeen 'n kontantprys, medalje en skild van Sanlam en 'n balkie vir hul skoolbaadjies ontvang, asook 'n boekprys van NB-Uitgewers. Die eersteplek-wenners het daarmee saam elkeen 'n slimfoon of tablet gekry. Ander borge sluit in die Universiteit Stellenbosch, kykNET, TAO (Trust vir Afrikaanse Onderwys), Het Jan Marais Nationale Fonds en Millenium Trust.
Sydney Nhlanhla Mbhele, Sanlam se hoofhandelsmerkbestuurder, sê dit is vir Sanlam 'n eer om vanjaar vir die vyfde keer die naamborg van die WOW Spelfees te wees: “Spel speel 'n groot rol in leerders se akademiese prestasie op skool, asook in die ontwikkeling van leerders se potensiaal om uiteindelik naskoolse opleiding te deurloop, finansieel vooruit te kan gaan en waardige, suksesvolle landsburgers te word."
Die WOW Nasionale Spelfees is nou in sy agtste jaar. WOW, 'n akroniem vir Woorde Open Wêrelde, het ten doel om 'n liefde vir lees en woorde by leerders te kweek. Die projek help ook jaarliks sowat 15 behoeftige studente aan die Universiteit Stellenbosch deur aanvullende beurse beskikbaar te stel.
Nasionale wenners per graad in Afrikaans Huistaal
Graad 1
- Ruan Maartens Laerskool Fairland Gauteng
- Katryn Silvis Laerskool Jan van Riebeeck Wes-Kaap
- Janolene Fiekies VRT Pitt Primêr Wes-Kaap
Graad 2
- Luke Versveld Laerskool Gericke Wes-Kaap
- Nay-Leesha Rezant Alpha Primêr Noord- Kaap
- Marli Jacobs Laerskool CR Swart Mpumalanga
Graad 3
- Wium Potgieter Laerskool Parys Vrystaat
- Marlouise du Toit Laerskool Vredendal Wes-Kaap
- Duan Beukes Melkbosstrand Privaatskool Wes-Kaap
Graad 4
- Megan Cruickshank Laerskool Louw Geldenhuys Gauteng
- Logan Damane The Hague Primêr Wes-Kaap
- Hayden Vorster Laerskool Helderkruin Gauteng
Graad 5
- Lise la Grange Laerskool Niko Brummer Wes-Kaap
- Carii van Rooyen Laerskool Krugerpark Limpopo
- Faith Pieterse Alpha Primêr Noord-Kaap
Graad 6
- Keesha Bukkies Laerskool Laurie Hugo Wes-Kaap
- Sheona-Lee Blou Seagull Primêr Oos-Kaap
- Elmien Pieterse Laerskool Pietersburg-Oos Limpopo
Graad 7
- Tatum Ferrier Idasvallei Primêr Wes-Kaap
- Mila Kotzé Truida Kesstell Vrystaat
- Anri Botha Laerskool Sunridge Oos-Kaap
Graad 8
- Izelna Venter Hoërskool Pietersburg Limpopo
- Annabelle Theunissen Hoërskool Middelburg Mpumalanga
- Skylah Williams Hoërskool Namakwaland Noord-Kaap
Graad 9
- Josef Joubert Hoërskool Piet Potgieter Limpopo
- Asleigh Arendse Hoërskool Namakwaland Noord-Kaap
- Luyanda Pofadder GS Friesdale RK Noord-Kaap
Graad 10
- Leandri du Plessis Hoërskool Sentraal Vrystaat
- Jennilee Stuurman Bernadino Heights Wes-Kaap
- Elsa Marie van der Watt HMS Bloemhof Wes-Kaap
Nasionale wenners per graad in Engels Eerste Addisionele taal
Grade 6
- Khanya Siheula Graslaagte Primary Eastern Cape
- Megan Potberg Graslaagte Primary Eastern Cape
- Kgatliso Ebuang Pabalelo Primary Northern Cape
Grade 7
- Bessie Longwe Hindle Road West Primary Western Cape
- Babalwa Zikhali Vela-Langa Primary Northern Cape
- Shaylin De Klerk Hermeslaan Primary Western Cape
Grade 8
- Tristen Tieling Saxsonsea Secondary Western Cape
- Charlton Goliath Gelvandale High School Eastern Cape
- Verona Appollis Atlantis Secondary Western Cape
Grade 9
- Mpho Xwethu Vuyolwethu High School Northern Cape
- Tanya Starbuck Otto Du Plessis High School Eastern Cape
- Lauren Balie Atlantis Secondary Western Cape