
#WomenofSU: Vroue toegerus wetlik bemagtig te word
Ongeag hul inkomste, klas, ras, sosiale status of ouderdom, is daar nog talle Suid-Afrikaanse vroue wat nie hul regte ken as dit kom by kwessies soos die huwelik, indiensneming, behuising, finansies, en ander sake nie. Verder ondervind vroue unieke uitdagings om toegang tot die reg te kry en daarom is geregtigheid dikwels buite hul bereik. Daarom het me Monja Posthumus-Meyjes en 'n dinamiese span regskundiges verbonde aan die Universiteit Stellenbosch Regskliniek die Vroueregsbemagtiging-gereedskapkisprojek van stapel gestuur in 'n poging om vroue meer te leer oor die wet.
Om meer lig op hierdie projek te werp as deel van Vrouemaand, vertel Posthumus-Meyjes ons meer oor hoe vroue in hul diensgebied baat vind by hierdie projek.
Vertel ons meer oor die Vroue-gereedskapkis
Die Vroue-gereedskapkis is uit die idee gebore om te probeer om aan vroue die nodige kennis te verskaf om hulself oor hul regte in te lig en te bemagtig. Ons het 'n paar individuele sessies met vroue wat raad soek oor verskeie sake, gehad. Daarom het ons hierdie loodsprojek begin en dit die Vroueregsbemagtiging-gereedskapkisprojek genoem. Die projek is as 'n finalis in die “Bemagtiging van vroue in die gemeenskap"-kategorie in die 2019 Gender Mainstreaming-toekennings aangewys. Die wenners van die toekennings word in September aangekondig.
Hoekom het julle hierdie projek begin?
Deur net na ons kliëntebasis binne die gebiede wat ons bedien, te kyk, het ons gevind dat daar 'n baie groot behoefte onder vroue was om meer oor die wet, die regstelsel en hul regte in die algemeen te leer. Hoewel dit nog net 'n loodsprojek is, het ons reeds begin om werksessies en bewustheidsveldtogte vir vroue in en rondom Stellenbosch aan te bied en ons hoop om dit selfs verder uit te brei om nog meer vroue te bereik.
Wat is die grootste behoefte van vroue wat hierdie sessies bywoon?
Ons het gevind daar is 'n behoefte onder vroue om die wet en hul eie regte as vroue beter te verstaan. Die behoeftes verskil van persoon tot persoon. Een wil dalk meer leer oor haar regte as 'n werknemer, terwyl 'n ander dalk wil weet wat haar regte is ten opsigte van 'n lewensmaat wat haar mishandel. 'n Ander vrou mag dalk sukkel met behuisingsekerheid. Ons het ook gevind dat baie vroue meer inligting benodig om die reg en tradisionele huwelike beter te verstaan. Ons doelwit met hierdie werksessies is om soveel as moontlik inligting oor verskeie aspekte van die reg te verskaf sodat hulle hulself kan bemagtig.