Skip to main content
#WomenofSU: US-pediater help kinders om te floreer

#WomenofSU: US-pediater help kinders om te floreer

Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie (René-Jean van der Berg)
29 Augustus 2019

Wanneer 'n mens ons opvoedkundige uitkomste onder oënskou neem, wil dit lyk of Suid-Afrikaanse kinders 'n kognitiewe agterstand in vergelyking met hul tydgenote in beide ontwikkelde en ontwikkelende lande het. Navorsing toon dat sowat 80% van kinders in graad 4 nie met begrip kan lees nie.

Dr Miemie du Preez, 'n pediater by die Universiteit Stellenbosch se Tygerberg-kampus, glo dat gesondheidsorgpraktisyns 'n leidende rol in die bevordering van geletterdheid en opvoedkundige uitkomste kan speel.

Sy het die Tyger Reach Out and Read (ROAR)-inisiatief by die Tygerberg-hospitaal begin om babas reeds van 'n baie jong ouderdom af aan boeke en lees bloot te stel. Sy vertel meer:

Vertel ons meer oor die Tyger ROAR-inisiatief.

Die Reach Out and Read-projek by ons Tygerberg-kampus is gegrond op 'n soortgelyke ROAR-inisiatief in die Verenigde State, met dokters en primêre gesondheidsorgwerkers wat reeds vanaf geboorte prenteboeke aan minderbevoorregte kinders uitdeel en ouers aanmoedig om boeke met hul kinders te deel.

Ons het hierdie inisiatief in 2015 by Tygerberg begin en die doel is om interaksie tussen ouers en kinders te verbeter en ook om hulle aan gedrukte materiaal bloot te stel. Dokters, mediese studente en verpleegpersoneel is aktief by die uitdeel van die boeke betrokke.

Wie vind baat by hierdie projek?

Alle swanger mammas ontvang 'n kinderrympieboek in hul moedertaal wanneer hulle 36 weke swanger is. Hulle word aangemoedig om vir hul ongebore babas te lees en te sing. Ons gee ook boeke aan die kinders wat die buitepasiëntesaal besoek of wat in die hospitaal opgeneem word. Ter aanvulling hiervan het ons ook altyd verskuifbare boekrakke vol boeke by ons wagkamers waar vrywilligers en mediese studente help om die boeke aan die kinders voor te lees of dit tussen die sale te roteer.

Hoe suksesvol is die projek sover?

Ons vind dat ouers baie bereidwillig is om deel te neem. Oor die algemeen wil ouers hê hul kinders moet lees of sal die ouers aan hulle voorlees, maar weens finansiële druk kan hulle nie bekostig om boeke te koop nie. Ouers is ook meer geneig om vir hul kinders te lees as dit deur die mediese personeel aanbeveel word.

Ons is tans die enigste hospitaal met 'n leesinisiatief. Die boeke is uniek omdat hulle spesifiek vir hierdie projek ontwikkel is. Die boeke bevat 'n “Script to Read" en 'n verwysing na 'n biblioteek asook wenke vir ouers om lees pret te maak.

Wat is jou motivering om hierdie inisiatief aan te bied?

Ons kinders en hul onontginde potensiaal is my passie en ek glo ons is almal verantwoordelik om hulle te help om hul potensiaal en drome te verwesenlik. Dit is wonderlik om die vreugde op hul gesiggies te sien wanneer hulle hul boeke ontvang en ook om te sien hoeveel die ouers dit geniet om die boeke met hul kinders te deel. Ek besef elke dag opnuut hoe bevoorreg ek is om met jong kinders en hul ouers te werk.