
#WomenofSU: Dr Azille Coetzee
Om geslagsongelykheid en dekolonisasie aan te spreek maak 'n groot deel uit van dr Azille Coetzee, 'n nadoktorale genoot binne die SARChl-leerstoel in Genderpolitiek in die Departement Politieke Wetenskap, se werk wat sy die afgelope paar jaar doen.
As deel van die US se Vrouemaandveldtog, vertel Coetzee hoe sy haar navorsing gebruik om geslagshiërargieë af te breek en die samelewing te help genees.
Vertel ons meer van jou navorsing.
In my navorsing verken ek die rol en plek van gender in die logika van kolonisasie en ondersoek ek die potensiaal van (Afrika-) feministiese denke om as 'n dekoloniserende krag te dien. Ons verstaan teen hierdie tyd al die rol van ras in die projek van kolonisasie redelik goed, maar ons begin nou eers verstaan waar gender inpas. Dit word al hoe duideliker uit postkoloniale en dekoloniale feministiese vakkundigheid dat ras en gender onderlinge samestellende kategorieë is en dat kolonisasie inherent 'n patriargale projek is. As ons dit ernstig opneem, word genderbevryding 'n sleutel tot die projek van dekolonisasie. In my werk soek ek na maniere waarop feministiese denke help om koloniale strukture en hiërargieë in die Suid-Afrikaanse samelewing te identifiseer en af te breek. In die proses skep ek ook dialoog tussen Westerse en Afrika-feministiese denke en probeer ek deurgaans om die uitwissings wat deur hoofstroom Westerse feministiese denke gepleeg is, te identifiseer.
Hoe of hoekom het jy in hierdie spesifieke navorsingsveld begin belangstel?
Feministiese filosofie bied wonderlike werktuie om Westerse denke mee te beoordeel. Teen die tyd dat ek tot by my doktorale studies gevorder het, was ek gereed om hierdie kritiese raamwerk toe te pas op die blywende koloniale paradigma wat steeds die struktuur van die maatskaplike en politieke stand van sake in Suid-Afrika op baie konkrete maniere bepaal. Ek het toe in Nederland gewoon, wat my net meer bewus gemaak het van die hardnekkige koloniale hiërargieë wat politiek wêreldwyd beheer, ten koste van samelewings soos ons s'n.
Hoekom dink jy is dit so 'n belangrike navorsingsveld vir Suid-Afrikaanse vroue?
Ons is geneig om in Suid-Afrika in terme van 'n hiërargie van probleme te dink. Die diskoers van hoofstroom-politiek maak ons op verskeie implisiete en eksplisiete maniere wys dat ons eers die probleem van ras in ons land moet pak en oplos alvorens ons probleme soos geslagsongelykheid en seksuele geweld kan aanspreek. Ek probeer in my navorsing om uit verskillende hoeke te wys hoe die voortslepende probleem van rasse-ongelykheid in Suid-Afrika diepliggend aan die skadelike geslagshiërargieë wat ons samelewing vorm, verbind is. My navorsing is dus belangrik vir Suid-Afrikaanse vroue in die sin dat ek probeer bewys hoe ons feministiese stryd eerder sentraal as periferaal in die projek van dekolonisasie en die genesing van ons samelewing staan.
Wat beskou jy as die grootste invloed van jou navorsing op vroue in die land?
Omdat ek in die filosofie werk, lewer ek op teoretiese en simboliese vlak 'n bydrae. Ek probeer om te help deur 'n dieper insig te bied in hoe mag en onderdrukking funksioneer.
Wat is jou boodskap aan die volgende generasie vrouenavorsers?
Ek dink dit is belangrik dat ons dapper en kreatief in ons benaderings moet wees, dat ons sal sorg dat ons nie bloot net ou patriargale (koloniale) maniere van dink en doen herhaal en herinstel nie, maar om eerder ons navorsing te gebruik om iets nuuts en anders tot stand te bring.