
Wêreldvlugtelingdag: Vlugtelinge se reg op geskikte behuising moet beskerm word
Wêreldvlugtelingdag is op Dinsdag 20 Junie gedenk. In ʼn meningsartikel vir die Cape Times skryf dr Callixte Kavuro van die Departement Publiekreg dat die Suid-Afrikaanse regering behuisingwetgewing en ander redelike maatreëls moet in te stel wat vlugtelinge en asielsoekers sal help om 'n dak oor hulle kop te vind.
- Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.
Callixte Kavuro*
Ek het op Wêreldvlugtelingdag, wat Dinsdag 20 Junie gedenk is, weer nagedink oor die sosio-ekonomiese regte van vlugtelinge en asielsoekers, veral oor hulle reg op geskikte behuising wat in artikel 26 van die Suid-Afrikaanse Grondwet gewaarborg word. Wat veral integraal hieraan is, is die feit dat die reg op geskikte behuising universeel is aangesien dit op almal van toepassing is.
Ek het in 2018 in my doktorale studie die kwessie hanteer oor of vlugtelinge en asielsoekers daarop geregtig is om toegang tot die regering se behuisingsprogramme te hê. My gevolgtrekking was dat hulle wel volgens die reg daarop geregtig is om die reg op behuising op dieselfde manier as landsburgers te geniet. Hulle staar uitdagings in die gesig wanneer hulle 'n dak oor hulle kop moet vind. Daar is geen staatsprogram om verblyf aan kwesbare mense wat asiel soek in Suid-Afrika te bied nie. Hulle word gedwing om op dieselfde manier as enige ander buitelandse burgers self in hulle behuisingsbehoeftes te voorsien. Hulle regte word dus verontagsaam of oorgesien.
Die afwesigheid van 'n staatsprogram om vlugtelinge en asielsoekers te huisves, druis dus aan die een kant in teen internasionale en nasionale vlugtelingwetgewing en aan die ander kant teen konstitusionele wetgewing.
Ingevolge internasionale reg is vlugtelinge en asielsoekers geregtig op die reg tot behuising soos gewaarborg in artikel 21 van die Konvensie oor die Status van Vlugtelinge van 1951. Artikel 21 gee drie rigtinggewende beginsels ten opsigte van die manier waarop die reg tot behuising op nasionale vlak uitgebrei behoort te word om vlugtelinge en asielsoekers in te sluit. Die eerste beginsel maak daarvoor voorsiening dat die reg tot behuising op nasionale vlak aan vlugtelinge en asielsoekers gebied moet word.
Die tweede beginsel maak daarvoor voorsiening dat 'n gasheerland die genoemde vlugtelinge “so gunstig as moontlik sal behandel en in elk geval nie minder gunstig as die manier waarop [nie-burgers] oor die algemeen in dieselfde omstandighede behandel sal word nie". Die derde beginsel vereis dat die gasheerland sal verseker dat die genieting van die reg ooreenstem met plaaslike behuisingswette, beleide of regulasies of dat dit onderhewig is aan die beheer van openbare owerhede. Hierdie rigtinggewende beginsel bepaal die omvang van die toepassing van artikel 21.
Hierdie rigtinggewende beginsels is tot 'n groot mate verplaas na die Suid-Afrikaanse regstelsel deur die Wet op Vlugteling, 1998 (Wet 130 van 1998) soos gewysig, wat uitvoering gee aan en geïnterpreteer moet word in die lig van die 1951-Konvensie en ander vlugteling- en menseregte-instrumente waarvan Suid-Afrika 'n ondertekenaar is.
Ten slotte …
Dit is grondwetlik problematies dat behuisingwetgewing nie voorsiening maak vir behuising wat ontwerp is om die lewensgehalte van vlugtelinge te verbeter nie. Die verskaffing van behuising is fundamenteel belangrik vir die beskerming van die welstand en waardigheid van vlugtelinge en asielsoekers. Die afwesigheid van die oorweging van vlugtelinge se regte en beginsels in behuisingswetgewing, regulasies en programme veroorsaak dat vlugtelinge en asielsoekers in haglike behuisingsomstandighede woon, wat tot hulle morele en maatskaplike agteruitgang bydra. Hulle uitsluiting van behuisingsprogramme laat die vraag onstaan hetsy of vlugtelinge dieselfde behandeling moet ontvang as wat nie-landsburgers geniet soos gedefinieer ingevolge die Wet op Immigrasie, 2002 (Wet 13 van 2002), en of hulle gunstige gedifferensieerde behandeling moet kry wat voldoende is vir die beskerming van hulle welstand ingevolge die Wet op Vlugtelinge.
Ek doen dus 'n beroep op die regering om vlugtelinge en asielsoekers se posisie in die behuisingsektor in ag te neem deur wetgewende en ander redelike maatreëls in te stel wat hulle sal help om 'n dak oor hulle kop te vind. Die Konstitusionele Hof se redenasie dat vlugtelinge mense is “wat uit hulle huise gevlug het, hulle lewens en dikwels ook hulle gesinne en besittings moes agterlaat weens 'n grondige vrees vir vervolging", moet in ag geneem word. Asielsoekers moet dikwels “hulle huise haastig verlaat en bevind hulleself in 'n onbestendige situasie in die land van asiel sonder familie of vriende en sonder enige hulpbronne om hulleself te ondersteun". Daarom is dit 'n humanitêre daad om aan hulle 'n dak oor hulle koppe te bied.
- Klik hier om die res van die artikel soos geplaas te lees.
Foto met vergunning van Wikimedia Commons.
*Dr Callixte Kavuro is 'n postdoktorale navorsingsgenoot in die Departemente Publiekreg aan die Universiteit Stellenbosch.