
Wenke om water te bespaar
08 Maart 2017
Hoewel Universiteit Stellenbosch talle maatreëls in plek het om water te bespaar as deel van die waterbesparingsinisiatiewe in die Wes-Kaap, kan elkeen van ons ook ons deel doen om te help bespaar wanneer ons nie op kantoor is nie.
Volgens die Stad Kaapstad - van wie Stellenbosch ongeveer 60% van sy water kry - se statistieke, word bykans 75% van water wat in die Stad gebruik word, tuis gebruik. En dan word 40% tot 60% van dié water ondoeltreffend in tuine en swembaddens gebruik.
Hier is 'n paar wenke om tuis water te bespaar.
- Maak seker jy draai krane styf toe. 'n Druppende kraan kan tot 30 liter water per dag mors, gelykstaande aan 10 000 liter per jaar.
- Gebruik jou watermeter om te kyk vir lekkasies. Lees die watermeter, wag twee ure sonder om water te gebruik, en lees dan weer die meter.
- Vang reënwater vanaf geute in 'n tenk op. Hierdie water kan gebruik word om die tuin nat te maak.
- Draai die kraan toe wanneer jy skeer, tande borsel of jou hande was.
- Stort eerder vir 'n kort tydjie as om te bad.
- Installeer waterbesparende stortkoppe. 'n Nie-waterbesparende stortkop kan tot 16 liter water per minuut gebruik.
- Vang stortwater op en gebruik dit om die toiletbak te vul.
- Probeer om meer wasgoed saam te was, eerder as om kleiner bondels te was.
- Spoel vrugte en groente in 'n bak water af en gebruik dit daarna in die tuin.
- Bedek jou swembad om verdamping teen te werk.
- Drink minder gebottelde water. Dit neem 3 tot 5 liter water om 1 liter gebottelde water te produseer.
- Eet sjokolade! Dit neem 1 liter water om 'n stafie sjokolade te maak en 2 400 liter om 'n hamburger te maak.
- Plant meer inheemse en waterbesparende plante in jou tuin.
- Gebruik 'n besem om geplaveide areas skoon te vee. Dit is onwettig in die Wes-Kaap om geplaveide areas met water af te spuit.
- Sny minder gras! Langer gras behou water beter.
- Gebruik alternatiewe waterbronne soos gryswater of installeer 'n boorgat of put.
- Wanneer jy wag vir die kraanwater om warm te word, vang die water in 'n bottel op vir hergebruik.
Besoek ook www.capetown.gov.za vir meer waterbesparingswenke. Kontak John de Wet of Meg Pittaway vir meer inligting of stuur e-pos na [email protected].