
#VrouevanUS: Op diabetes se spoor
Die regte biochemiese toetse om diabetes mellitus vroeër op te spoor kan die swaar las van hierdie siekte op die gesondheidstelsel en plaaslike gemeenskappe verlig.
Diabetes neem weens die vetsug-epidemie wêreldwyd teen 'n kommerwekkende tempo toe. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beraam dit sal teen 2035 592 miljoen individue wêreldwyd raak. Plaaslik leef tot een uit elke vyf mense met die siekte sonder om eens daarvan bewus te wees.
Prof Annalise Zemlin, 'n dosent van die Afdeling Chemiese Patologie aan die Universiteit Stellenbosch, het die gebruik van HbA1c (glikosileerde hemoglobien) as 'n siftingsinstrument vir diabetes in die gemeenskap van Bellville-Suid in die Wes-Kaap ondersoek. Sy het haar PhD aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe oor dié onderwerp voltooi. Haar studie het op 'n bevolking van gemengde herkoms gefokus en maak deel uit van 'n groter navorsingsprojek in die Fakulteit om diabetes in die plaaslike konteks uit te pluis.
Tot onlangs is gesondheidsprobleme in Afrika suid van die Sahara grootliks veroorsaak deur aansteeklike siektes soos MIV-infeksie, tuberkulose (TB) en malaria. Maar omdat Afrika nie die wêreldwye toename in vetsug vrygespring het nie, neem die voorkoms van nie-oordraagbare siektes soos diabetes en kardiovaskulêre siektes toe. “Nie-oordraagbare (chroniese) siektes neem ook in Suid-Afrika toe en plaas 'n groot las op die gesondheidstelsel," sê Zemlin. “Sonder behandeling kan diabetes ernstige komplikasies veroorsaak, waaronder nierversaking en kardiovaskulêre siektes."
Mense met diabetes se risiko vir kardiovaskulêre siektes is net so hoog soos diegene wat reeds 'n hartaanval gehad het. Gevolglik word deurentyd aan die verbetering van siftingstoetse vir die vroeë opsporing van diabetes en kardiovaskulêre siektes gewerk.
In talle lande word 'n HbA1c-bloedvlak van meer as 6,5% (48 mmol/mol) gebruik as die afsnypunt vir die siftingsinstrument om diabetes op te spoor. Die toets word gedoen op die hemoglobien wat in rooibloedselle voorkom. Hierdie suurstofdraende proteïen vorm verbindings en behou 'n “herinnering" aan die gemiddelde suikervlakke in die pasiënt se bloed oor die laaste twee tot drie maande (die gemiddelde lewensduur van 'n rooibloedsel). Hoe hoër iemand se bloedglukosevlakke is, hoe hoër is die HbA1c-vlak wat waargeneem word. Zemlin het bewysgebaseerde navorsing gedoen om te bepaal of hierdie afsnypunt vir HbA1c plaaslik gebruik kon word.
Maar dit was nie geskik vir Bellville-Suid se bevolking van 'n gemengde herkoms nie en kon selfs die onderdiagnosering van diabetes meebring. Volgens haar is 'n afsnypunt van 6,1% (43 mmol/mol) meer optimaal vir hierdie bevolking. Zemlin het ook die vlakke van adiponektien en E-selektien as nuwe merkers vir kardiovaskulêre wanfunksionering ondersoek en gevind dit is nie juis van nut vir hierdie groep nie.
Haar studie het die belangrikheid van bewysgebaseerde navorsing in die plaaslike konteks benadruk. “Die akkuraatheid van die HbA1c-toetse het sekere beperkinge. Die toets is byvoorbeeld moontlik nie akkuraat vir mense met anemie nie. Voorts is rasverskille en verskille in die tempo van hemoglobienglikosilasie ook beskryf."
Die uitdaging om siftingsinstrumente vir diabetes te verfyn en om mense vroeër te diagnoseer bly in die lig van die las van hierdie siekte van deurslaggewende belang, sê Zemlin. “Die styging in die voorkoms van nie-oordraagbare siektes gaan ons gesondheidstelsel, wat reeds onder die las van MIV en TB gebuk gaan, noodwendig uitdaag. Boonop kan MIV en die behandeling daarvan iemand se kanse verhoog om diabetes op te doen. Diabetes kan ook vatbaarheid vir TB verhoog weens die uitwerking daarvan op die immuunstelsel.
“Daarom bly die vroeë diagnose van diabetes en pre-diabetes (die voorloper van diabetes) 'n belangrike uitdaging in ons omstandighede."
Onderskrif: Prof Annalise Zemlin
Foto deur Damien Schumann