Skip to main content
Voortslepende ongelykhede bedreig globale MIV/vigs-vooruitgang

Voortslepende ongelykhede bedreig globale MIV/vigs-vooruitgang

Lemonade Hub
05 Mei 2023

Die oog van die Covid-19-storm het net twee jaar geduur. Tog was talle mense lank voor dit op verskillende maniere pandemie-voos: hulle het skuiwergate in sosiale beperkings gekry, nie maskers gedra nie of nuwe syfers het hulle bloot nie meer geraak nie. Met die MIV/vigspandemie wat al dekades aan die gang is, is die risiko om ’n sin van dringendheid te verloor dus groot ─ en duidelik.

In die loop van April het MPhil-studente by die Afrika Sentrum vir MIV/vigsbestuur se “Master your master’s”-werkswinkel die voorreg gehad om gedetailleerde inligting oor belangrike syfers, gapings en vereiste strategieë te kry by Eva Kiwango, Suid-Afrika se UNAIDS-direkteur.

Beduidende vooruitgang, maar van watter basislyn af?

Soos met enige deeglike MIV/vigs-oorsig, ignoreer Kiwango nie die aansienlike vooruitgang wat al gemaak is nie. Dit sluit in ’n afname in nuwe infeksies (wat sedert 1996 gehalveer het) en vigsverwante sterftes wêreldwyd. Getalle kan egter misleidend wees: "Ons het die 2020-teikens gemis [die 1,5 miljoen nuwe infeksies in 2021 is baie meer as die teiken van 500 000], en ons het net sewe jaar oor om die 2030-doelwit om vigs te beëindig te bereik," het sy uitgewys, met klem op die feit dat tendense nie vinnig genoeg verander nie. Die las is veral swaar in Afrika, waar 54% van alle mense met MIV woon.

Hoe verander ons die trajek? Kiwango het beklemtoon dat dit noodsaaklik is om na die fyn detail van statistiek te kyk om te identifiseer wie agtergelaat word en waarom ─ ons kan nie op absolute data staatmaak om probleme te identifiseer nie. “Die rol van gemeenskapsorganisasies het krities geword, om mense die kern van die kwessie te maak,” het sy gesê. Hierdie fokus word weerspieël in huidige teikens, wat vir die eerste keer samelewingsverwante faktore soos beperkte toegang tot MIV-dienste, diskriminasie en gendergeweld insluit.

Ongelykheid – die groot struikelblok

As mens op ’n meer gedetailleerde vlak na die data begin kyk, word die grootste struikelblok om MIV/vigsteikens te bereik gou duidelik: ongelykheid. Kiwango het twee van die doeltreffendste hulpmiddels vir die voorkoming van nuwe infeksies genoem ─ kondome en behandeling voor blootstelling (PrEP, wat vir pre-exposure prophylaxis staan). Hoewel kondoomgebruik die afgelope 30 jaar na raming 117 miljoen infeksies voorkom het, word toegang en gebruik steeds gekenmerk deur ongelykhede, met laer kondoomgebruik onder ongeletterde mans. Daar is soortgelyke leemtes in die voorsiening en gebruik van PrEP, met bekostigbaarheid ’n groot uitdaging.

Uit ’n geslagsgelykheidsoogpunt bly die kwesbaarheid van vroue en meisies 'n bekommernis, en die syfers is verontrustend: in 2021 was daar elke twee minute 'n nuwe MIV-infeksie onder adolessente meisies en jong vroue (tussen 15 en 24 jaar oud) in sub-Sahara-Afrika. Die voorkoms van MIV onder bepaalde groepe beklemtoon ongelykhede in toegang tot dienste oor seksuele gesondheid, voortplanting en MIV. Hierdie groepe sluit sekswerkers, mense wat dwelms inspuit, gay mans en ander mans wat seks het met mans, asook transgender vroue in. "Die kriminalisering van bepaalde groepe beklemtoon die behoefte om kwessies van diskriminerende en strafregtelike wetgewing te ondersoek," het Kiwango gesê.

Kiwango voel sterk oor aspekte wat kinders taak en het dit beklemtoon dat die stelsel kinders wat deur MIV geraak is, faal. In 2021 het sowat die helfte van kinders met HIV steeds nie toegang tot lewensreddende behandeling gehad nie. Die gebrek aan behandeling, asook nuwe infeksies onder kinders (wat nie genoegsaam daal nie), is "eenvoudig onaanvaarbaar". Dit is nou verbonde aan ongelyke toegang tot dienste vir vroue ─ met anretrovirale behandeling onder ma’s wat sedert 2015 gestagneer het ─ en nuwe infeksies onder swanger of borsvoedende vroue.

Om hierdie fyn nuanses van die statistiek te verstaan is vir die Afrika-Sentrum se studente van onskatbare waarde. "Ons studente is deel van die volgende generasie vigsvegters wat die pandemie se trajek oor die komende dekade sal bepaal," het dr. Munya Saruchera, interimdirekteur van die sentrum, gesê. "Dit is nie elke dag dat ons die voorreg het om eerstehands toegang te hê tot sulke internasionale gesaghebbendes oor MIV/vigs soos UNAIDS nie. Nou kon studente me Kiwango se kundigheid benut deur vrae te vra en inligting te deel oor spesifieke uitdagings in hul beroepe.”

Befondsingswanbalanse vererger die probleem

Die kwessie van ongelykheid is ook sigbaar in befondsingswanbalanse, waarvan sommige aan bevolkingsongelykhede gekoppel is. 'n Paar jaar gelede was die befondsing vir programme wat vroue en adolessente meisies bevoordeel minder as 40% van die vereiste bedrag. Die befondsingsgaping beïnvloed ook die neutrale, gesondheidsverwante aspekte van die pandemie, soos befondsing vir TB-behandeling. Terwyl tuberkulose die hoofoorsaak van sterftes onder mense met HIV/vigs is, het Kiwango daarop gewys dat minder as die helfte van mense met HIV en TB vir albei behandel word.

’n Onlangse Economist Impact-verslag het gewys dat 'n volledig befondsde MIV/vigsrespons in Afrika 'n drievoudige dividend van maatskaplike, ekonomiese en gesondheids voordele sal lewer. "Dit sal bydra tot die ontwikkeling van menslike kapitaal, gesondheidstelsels versterk en nuwe infeksies verminder," het Kiwango gesê.

Terwyl geweldige vordering gemaak is in die stryd teen hierdie pandemie, is die tempo te stadig. Toegang tot voorkomingsdienste en behandeling haal nie die teiken nie, en beleidsimplementering skiet ook tekort. 'n Nuwe benadering is nodig. En dit is alles in die fyner besonderhede, soos Kiwango gesê het: "Ons moet ons reaksies by die verskillende behoeftes van verskillende bevolkings aanpas as ons hierdie pandemie wil oorwin.”