Vier Maties op die land se Top 100-lys van mees indiensneembare studente
Vier Universiteit Stellenbosch-studente is onder die Top 100-finaliste in die 2022 DHL GradStar-toekennings, wat erkenning gee aan die mees indiensneembare voltydse studente in die land. Dié studente is Melt Hugo, Giséle Lavita, Keaton Harris, en Jacobus George van Dyk.
Nadat hulle duisende inskrywings van studente van oor die land heen ontvang het, is die Top 100-finaliste aangekondig in die GradStar-kompetisie, wat volgens DHL “die enigste program van sy soort is waar duisende studente inskryf om deur die top werkgewers in die land erken te word". Dié toekennings is tans in sy sewende jaar en word deur DHL geborg, en ook ondersteun deur topwerkgewers soos Epiroc, Fasken, Absa, FutureFit Academy en die Golden Key Honours Society.
Oor die afgelope twee jaar veral, het studente hul behoefte besef om deur werkgewers raakgesien te word om sodoende toekomstige werk te verseker.
“Gedurende hierdie tyd van COVID moet werkgewers relevant en sigbaar bly vir die arbeidsmag van die toekoms, en deur die GradStar-program het ons 'n manier gevind om die gaping tussen die universiteite en die wêreld van werk te oorbrug," sê Laura Barker, stigter van die GradStar-toekennings en uitvoerende hoof van BlackBark Productions.
“Ons is bly om terug te keer na 'n regstreekse geleentheid en wens die Top 100 alle sterkte toe vir die res van die kompetisie."
Dr Eric Albertini, stigter van 3C Leadership, was instrumenteel in die ontwikkeling van die beoordelingsraamwerk vir die GradStar-toekennings. Toe hy tydens 'n regstreekse webinar die Top 100 aangekondig het, het hy opgemerk hoe uiters hoog die kaliber van inskrywings is, en dat die finaliste almal die eienskappe van suksesvolle toekomstige werknemers toon.
"Ons is verheug om met die GradStar-program geassosieer te word, aangesien ons glo daar is geen beter belegging te maak as in die toekomstige leiers van hierdie wonderlike land van ons nie, en daar is geen twyfel dat die gekose studente in daardie kategorie pas nie," het Paul Clegg van DHL gesê.
Die Top 100-finaliste sal op 1 Desember 2022 aan 'n volle dag van werkswinkels met die borg-werkgewers deelneem, waarna 'n "10-van-die-beste"-groep op dieselfde aand tydens 'n regstreekse gala-dinee deur die borge gekies en aangekondig sal word.
Studente kan die GradStar-toepassing van alle toepassingwinkels aflaai om met ander studente te netwerk en met werkgewers wat op soek is na jou vaardigheidstel te pas.