
Verskeie faktore belemmer grondhervormingspogings
Die sukses van grondhervormingspogings word in die wiele gery deur, onder meer, swak landbou-ondersteuningstelsels, burokrasie, en 'n gebrek aan goeie aansporings.
Só het prof Johann Kirsten, direkteur van die Buro vir Ekonomiese Navorsing aan die Universiteit Stellenbosch, op Dinsdag (21 November 2017) gesê. Hy het sy intreerede in die Van der Sterr-gebou op die Stellenbosch-kampus gelewer.
Kirsten het gesê baie tyd en moeite is (en word steeds) verspil in die ontwerp en herontwerp van grondhervormingsprogramme sonder enige waardering vir die produktiewe waarde van landbougrond en die realiteite van boerdery in Suid-Afrika.
“Daar was tussen 1996 en 2016 vyf programme wat probeer het om die herverdeling van die grond ʼn werklikheid te maak (benewens die ander twee hoofprogramme van restitusie en hervorming van eiendomsreg)."
“Sommige was van mening dat die meeste van hierdie programme slegs gefokus het op die skep van lewensvatbare kommersiële plase en grootskaalse bedrywighede wat dikwels verkies word deur tegnici wat selde vertroud is met kleinskaalse boerdery."
Kirsten het gesê markgesteunde programme het baie vinniger resultate gelewer as wat algemeen aanvaar is en daarom moet dit ondersteun en meer effektief gemaak word.

Hy het aangevoer dat die meeste amptelike statistieke rakende die bereiking van herverdelingsteikens wat deur die regering (en politici) gerapporteer is, alle private transaksies geïgnoreer het waar swart individue sonder staatshulp landbougrond van wit boere gekoop het.
“Dit is dus nie verbasend dat daar bewerings is dat grondhervorming teleurstellend stadig is en dat boere nie bereid is om hul grond te verkoop nie."
“Ongelukkig weet ons dat grond wat reeds in staatsbesit is, nie produktief gebruik word nie - dit is duidelik uit die ongeveer 5000 plase wat verkry is, maar nie toegewys is nie, en die honderde duisende hektaar grond wat reeds herverdeel is, maar nou braak lê weens swak staatsondersteuning en -bestuur."
“Daar is dus min praktiese bewyse dat grondonteiening sonder vergoeding armoede sal verlig en werk sal skep."
Kirsten het gesê baie van die onlangse beleidsvoorstelle vir die herverdeling van grond het hul oorsprong in die voortgesette obsessie met die vestiging van kleinskaalse plase.
“Daar is ook nie verstaan nie dat die heersende vorm van Suid-Afrikaanse kommersiële boerdery familieplase is - enkelbedrywe met familie en huurarbeid. Die groot korporatiewe tipe plase maak slegs 'n klein komponent van landbou in Suid-Afrika uit - slegs ongeveer 700 plaasbesighede."
Kirsten meen die meeste boerdery-eenhede met 'n omset van meer as R3 miljoen kan 'n redelike bydrae tot grondhervorming lewer.
“Ons praat van ongeveer 5 000 plase. Hierdie plase behoort redelik goed in elke distrik verteenwoordig te wees en kan help om enige herverdelingsteiken in elke distrik te bereik."
Kirsten het gesê as boere in 'n distrik saamwerk en grondhervorming word deur 'n buigsame en goed beplande finansiële meganisme geïmplementeer word, sal dit nie nodig wees beperkinge en ander strafmaatreëls te geïmplementeer nie.
“Die meeste kommersiële boere het die noodsaaklikheid van 'n meer gelyke verdeling van kommersiële landbougrond in Suid-Afrika aanvaar en het reeds bruikbare idees aangebied oor hoe suksesvolle en werkbare grondhervorming geïmplementeer kan word."
Daar is baie welwillendheid en genoeg kundigheid in die kommersiële boerderysektor wat die staat kan gebruik om grond aan die meerderheid te gee, het Kirsten bygevoeg.
- Hooffoto: Krediet: Pixabay
- Foto 1: Profs Johan Malan, waarnemende Dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, en Danie Brink, Dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe. Fotograaf: Justin Alberts