
Vaktydskrif deel van Departement Sportwetenskap se trotse geskiedenis
Die Universiteit Stellenbosch se Departement Sportwetenskap is nie net die oudste in die land nie, maar het ook die eerste vakwetenskaplike tydskrif in die veld uitgegee. In die jare dertig en veertig was dit Liggaamsopvoeding, en later was dit Vigor. Laasgenoemde het in 1961 doodgeloop.
Met dr Gert Scholtz (van die Potchefstroom Universiteit vir CHO) se terugkeer uit Amerika, het hy die leemte wat die verdwyning van Vigor gelaat het, gevul deur die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Navorsing in Sport, Liggaamlike Opvoedkunde en Ontspanning in 1978 te begin. Sedert 1986 is die tydskrif in die hande van die Departement Sportwetenskap by die US. Prof Floris van der Merwe was die eerste redakteur en prof Kallie van Deventer is sedert 2010 die redakteur.
Daar word bydraes vir die Joernaal van reg oor die wêreld ontvang, sê prof Van Deventer. Bydraes kom van Korea, Iran, die VSA, Spanje en Portugal om net paar te noem.
"Ons het tans twee uitgawes per jaar, maar ons kry so baie bruikbare bydraes dat dit nou nodig geraak het om meer uitgawes elke jaar uit te bring. Ons het begin met sewe artikels per uitgawe. Nou is daar 12 tot 15 per uitgawe. In die laaste uitgawe van die jaar gaan ons 20 gebruik."
Artikels vir publikasie word direk na prof Van Deventer gestuur en hy sal eerste deur die artikel lees.
"Ek kyk na taal- en tegniese versorging. Ek maak seker dat die riglyne vir outeurs nagekom is. As ek tevrede is, vra ek ʼn kenner in die veld waaroor die artikel handel om as vakredakteur op te tree."
Dit is die taak van die vakredakteur om twee referente te kry om verslae te skryf oor die artikel. Die vakredakteur sal na die lees van die verslae besluit of die artikel gepubliseer mag word.
"Dit is belangrik dat die artikel ʼn bydrae tot die veld moet lewer en wetenskaplik is. Ons het ʼn hoë standaard wat ons wil handhaaf sodat ons nie die ISI-gradering verloor nie."
Nog ʼn faktor wat wys op die sukses en hoë standaard van die joernaal, is die impak-syfer – dit verwys na hoe gereeld daar na artikels en navorsing in die joernaal verwys word. In 2011 was die impaksyfer 0.167 en die mees onlangse syfer is 0.244.