
#USVroue: Navorser spreek ongeregtighede teen vroue in sport aan
Danksy haar navorsingsagtergrond in geslagsbillikheid en vrouesport, asook haar toegewydheid aan die hervorming van die sportarena, het dr Nana Adom-Aboagye van die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir Sportleierskap by Maties Sport grensverskuiwende bydraes gelewer om die ongeregtighede teen vroue in sport aan te spreek.
Ter viering van Vrouemaand in Suid-Afrika, vertel sy ons meer oor haar navorsing.
Vertel ons meer oor jou navorsing.
My navorsingsgebied ondersoek geslagsbillikheid (nie gelykheid nie), vrouesport en geslagsgerigte (sport)beleide. Ek hou daarvan om die kruispunte tussen beleid en die praktyk vir Suid-Afrikaanse en Afrika-vroue in sport te verken. Dit behels om hul ondervindings te oorweeg en te verstaan oor dít waardeur ons ingelig word, deur beleid en wat hulle as vroue in sport nodig het op onstpannings- of elite-vlak. My benadering is om so inklusief as moontlik van alle vroue in sport te wees.
Baie mense glo vroue het reeds 'n ver pad gestap in sport in Suid-Afrika. Tog, wanneer jy met vroue en meisies oor hul sportervarings en -uitdagings praat, het baie min sedert 1994 verander, behalwe die getalle. Ek strewe daarna om vroue se stemme oor kwessies in sport op 'n nasionale en internasionale vlak te laat opklink – kwessies wat dikwels nie in ag geneem word nie of oor die hoof gesien word. Ek glo in navorsing vir impak in die sportarena, en nie net in navorsing ter wille van navorsing nie. Hierdeur wil ek hê my werk moet gesprekke aan die gang sit en 'n bydrae lewer tot afdwingbare hervorming, ongeag hoe klein die hervorming is.
Waarom of hoe het jy in hierdie spesifieke navorsingsgebied begin belangstel?
Terwyl ek met my meestersgraad aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) besig was, het ek geldelike ondersteuning vir topatlete ondersoek. Ek het besef hoe min vroue beskikbaar was of belanggestel het om aan my navorsingstudie deel te neem. Ek het begin nalees oor vroue in sport en het besef daar is 'n gaping in die literatuur ten opsigte van Afrika-stemme, asook begrip vir en kwessies oor Afrika-vroue in sport. As 'n swart vrou van Afrika en 'n voormalige sportvrou, kon ek nie by van die literatuur wat al verskyn het, aansluiting vind ten opsigte van byvoorbeeld persepsie en/of ondervindings nie. Ek het dus besluit om 'n manier te vind om tot die gesprek by te dra, en dit het tot my doktorale studies gelei.
Waarom dink jy is dit so 'n belangrike navorsingsgebied vir vroue/jong meisies in Suid-Afrika (of in die res van die wêreld)?
Ek glo dit is 'n belangrike navorsingsgebied omdat baie kwessies wat vroue in sport wêreldwyd affekteer, uitgedaag word, voorgestaan word, ens. Maar hier in Afrika het ons 'n agterstand oor spesifieke onderwerpe en dra ons nie daartoe by as Afrikane nie – veral wanneer dit onsself raak. Ek sal twee voorbeelde gee. Eerstens veg vroue in ontwikkelde lande vir (feitlik) gelyke besoldiging as mans binne dieselfde sportsoorte. Tog is dit vir baie Afrika-sportvroue nog steeds net 'n droom om 'n bestaan te maak as 'n voltydse sportvrou. Tweedens wil dit voorkom asof die kwessie van testosteroontoetsing in atletiek – iets wat weer vir hoofopskrifte gesorg het by die Olimpiese Spele in Tokio – blyk om sportvroue van Afrika proporsioneel die meeste te raak. Hierdie kwessie sleep al vir meer as 'n dekade voort. Ons het egter nog nie as 'n wetenskaplike gemeenskap uit oorkruisende dissiplines hande gevat om hierdie tipe uitspraak te verken of selfs uit te daag nie. Ons laat toe dat vroue alleen so goed as wat hulle kan, teen hierdie sake baklei met die ondersteuning wat hulle uit verskillende sektore en/of individue bymekaar kan skraap.
Die pandemie het ons werk- en lewenswyse verander. Hoe bly jy gemotiveerd in hierdie tye?
Danksy my gesin (ouers en broer) se ondersteuning. Ek is bevoorreg om uit 'n sportgesin te kom, wat beteken dat hulle die gebied verstaan wat ek gekies het om in navorsing te doen. Hulle glo ook in my selfs wanneer ek soms nie in myself glo nie (dit gebeur, navorsers is ook mense). 'n Goeie ondersteuningstelsel is onmisbaar vir enige navorser, en dit hoef nie noodwendig jou gesin te wees nie.
Vertel ons iets oor jouself wat ander mense nie sal verwag nie.
Ek was lid van die KwaZulu-Natal Middelande A-hokkiespan wat in 2000 die nasionale interprovinsiale titel hier in die Wes-Kaap verower het. Ek het ook in 2003 'n bronsmedalje in verspring by die Suid-Afrikaanse junior kampioenskapsbyeenkoms gewen.
Wat is jou boodskap aan die volgende geslag vrouenavorsers?
Indien iets jou passie is en jy dit wil nastrewe, maak dit nie saak of niemand of baie min mense op daardie navorsingsgebied soos jy lyk nie. Wees jy daardie inklusiewe stem wat 'n nuwe en onverkende perspektief bring. Daar sal beslis uitdagings wees en jy mag moontlik nie sekere mylpale wat jy vir jouself gestel het, bereik nie, maar moenie moed opgee nie! Alles gebeur met 'n doel – iets wat ek danksy teleurstellings geleer het. Onthou ook dat indien jy tou opgooi, na wie gaan diegene wat ná jou kom, opkyk vir inspirasie? Een van my vriende, dr Lombe Mwamba van die Nasionale Organisasie vir Vroue in Fisieke Sportaktiwiteite en -ontspanning (NOWSPAR) in Zambië, herinner my altyd aan die volgende: “Ons is die mense waarvoor ons gewag het (June Jordan)."