
#USjeugdag: 'Die wêreld het mense nodig wat voluit leef'
Christopher Arendse, 'n finalejaar mediese student, sing al ses jaar lank in die Universiteit Stellenbosch (US) Koor. Hy sê die koor het hom geleer dat hoe meer hy ander omarm, hoe meer is hy in staat om homself te omarm.
Gedurende Jeugmaand plaas ons die kollig op agt lede van die Universiteitskoor – een uit elke stemgroep. Tesame met meer as 'n honderd ander lede uit diverse agtergronde, kulture en studierigtings, en onder die leiding van koorleier André van der Merwe, bekoor hulle gehore regoor die wêreld met hul eiesoortige klank.
Christopher het 'n tydjie afgeknyp en 'n paar vrae beantwoord:
Vertel ons meer oor jouself, en hoe jy by die US Koor beland het.
Ek kom van die Suidelike voorstede van Kaapstad en is tans besig met my finalejaar Medies. Hierdie is my sesde jaar in die koor. Aan die begin van my eerstejaar het twee vriende, Aelke en Lerato, voor in die lesinglokaal gaan staan en die klas aangemoedig om vir die koor te oudisie. Ek het al vantevore in kore gesing, maar ek het nog nooit van die US Koor gehoor nie. Ek het besluit om dit 'n kans te gee.
Wat geniet jy die meeste van die koor?
Buiten vir die koor se toewyding tot uitnemendheid, en ons onkonvensionele, inspirerende dirigent, is die koor werklik enig in sy soort. Dit is 'n toevlug vir mense met diverse agtergronde, stories en drome. Dit het my geleer dat hoe meer ek ander omarm, hoe meer is ek in staat om myself te omarm.
Met die oog op Jeugdag, wat is jou boodskap van hoop vir ander jongmense?
"Moenie vra wat die wêreld nodig het nie. Vra jouself af wat dit is wat jou lewendig laat voel en doen dit, want wat die wêreld nodig het, is mense wat voluit leef." – Howard Thurman.
Wat is jou gunstelinglied op die oomblik?
My gunstelinglied is "Venture" deur Crosscurrent ZA.