Skip to main content
US vier Wêreld-omgewingsdag

US vier Wêreld-omgewingsdag

Rozanne Engel - Corporate Communications / Korporatiewe Kommunikasie
05 Junie 2018

Vandag (5 Junie) is Wêreldomgewingsdag, 'n inisiatief wat in 1974 deur die Verenigde Nasies (VN) se Omgewingsprogram begin is. Sedertdien het dit gegroei tot 'n wêreldwye platform vir openbare uitreik, wat in meer as 100 lande wêreldwyd gevier word.

Wêreldomgewingsdag is 'n belangrike dag regoor die wêreld om bewustheid te skep en   ons omgewing te beskerm. Die tema vir 2018 is #BeatPlasticPollution.

John de Wet, Bestuurder vir Omgewingsvolhoubaarheid aan die Universiteit Stellenbosch (US),  vertel meer  oor die talle inisiatiewe by die US om plastiek en ander besoedeling te help verminder.

Gegewe die tema van vanjaar se Wêreldomgewingsdag, hoeveel vermindering was daar in die gebruik van plastiek op alle kampusse?

Plastiek is een van die verbindings in ons herwinningsprogram. Ons doelwit is dat slegs 20% van ons afval op stortingsterreine beland en die res in ons herwinningsprogram opeindig Dit is egter nie die geval nie. Op die Tygerberg- en Bellvillepark-kampusse het ons 'n herwinningskoers van 60% en slegs 40% gaan na stortingsterreine. Ongeveer twee jaar gelede het ons op die Stellenbosch-kampus 'n 60/40- verhouding gehad, maar dit het sedertdien verminder.

Ons herwin tans minder as 50%, so ons hoeveelhede op stortingsterreine het verhoog, wat 'n groot besorgdheid is. Ons moet dit weer verander. In terme van plastiekafval op kampusse, by Tygerberg het ons 20% van die afval wat uit plastiek afkomstig is, by Bellville Park 12% en op Stellenbosch slegs sowat 10%.

Wat was die reaksie van die kampusgemeenskap (studente en personeel) om plastiekafval te verminder?

Oor al die kampusse heen het ons die drie-drom herwinningstelsel uitgerol. Ons het ook begin om die drie dromme in sommige geboue te plaas, vir herwinbare, nie-herwinbare en voedselafvalprodukte. Dit is egter 'n gesukkel om mense op te lei om dit reg te gebruik. Hulle gebruik steeds die verkeerde vullisdromme en sit die verkeerde goed daarin. Ons het eintlik begin met 'n bewusmakingsprogram, en enkele tekens en  voorbeelde opgesit van plastiek- of voedselafval  wat in die dromme geplaas moet word.

Watter omgewingsprojekte of inisiatiewe is tans op alle kampusse aan die gang?

Ons is die afgelope vyf jaar besig met omgewingsprojekte. Op die oomblik is die waterkrisis ons grootste prioriteit, dus doen ons baie projekte om water te bespaar. Ons het ook projekte oor effektiewe afvalverwydering, die gebruik van meer groen energie by kampusgeboue, hoe om ons riviere skoon te hou en meer omgewingsvriendelike nuwe geboue te skep.

Hoe suksesvol is die US in sy pogings om 'n volhoubare omgewing op alle kampusse te skep?

Ek glo altyd jy kan dit nie regkry as jy dit nie kan meet nie. Daarom is ons besig om 'n hele klomp elektroniese watermeters en energiemeters te installeer om ʼn beter idee van ons besparingspogings te kry. Uiteindelik sal dit ons help om te sien watter uitwerking al hierdie omgewingsprojekte op ons kampusse het, en om te sien of ons eintlik bespaar. Ek dink die US het oor die afgelope vyf jaar baie gedoen en hopelik kan ons ons pogings selfs verhoog en verbeter.

Wat is jou boodskap op dae soos Wêreldomgewingsdag?

In ons daaglikse roetine moet ons na die driehoek van energie, water en afval kyk en probeer om minder te gebruik. Probeer om iets te hergebruik as jy kan en benut hernubare energiebronne. Probeer ook om gryswater vir toilette te gebruik, en papier in plaas van plastiek en probeer jou impakop jou bronne verminder. Ons moet nie die volgende generasie se hulpbronne uitput nie; gebruik slegs jou eie hulpbronne wat vandag beskikbaar is.​

Foto deur Rozanne Engel