US vier Jeugdag met heuglike Sosiale Geregtigheid-staptog
Die elemente het goed saamgewerk vir 'n heuglike Sosiale Geregtigheid-staptog op Jeugdag, 16 Junie toe 'n groep van meer as 60 geesdriftige stappers die koue getrotseer het vir 'n goeie saak. Ná 'n week van onophoudelike reën op Stellenbosch het 'n verandering in die weer Vrydag die uiteenlopende groep stappers – bestaande uit gesiene akademici, studente en gemeenskapslede – die geleentheid gegee om aan die staptog deel te neem.
Die vierde jaarlikse Sosiale Geregtigheid-staptog is deur die Universiteit Stellenbosch (US) en Visit Stellenbosch gereël om die #Action4Inclusion en Bridge the Gap, twee skarefinansieringinisiatiewe wat daarop gemik is om studenteskuld te beëindig, 'n hupstoot te gee. Die roete het in die middel van die dorp begin en het die stappers deur Idasvallei oor Helshoogte na die Banhoek-bewaringsgebied in Kylemore as eindpunt geneem. Langs die pad het die groep by geskiedkundige plekke aangedoen om na te dink oor Stellenbosch se verdeelde verlede en die nalatenskap van slawerny en gedwonge verskuiwings.
Die US se topbestuur is deur die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, die voorsitter van die US Raad, dr Nicky Newton-King, en die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, prof Sibusiso Moyo, verteenwoordig. Geraldine Mettler, munisipale bestuurder van Stellenbosch, en Jeanneret Momberg, die HUB van Visit Stellenbosch en een van die organiseerders van die staptog, het die plaaslike gemeenskap verteenwoordig. Prof Mamokgethi Phakeng, die voormalige visekanselier van die Universiteit van Kaapstad, het vir die eerste keer aan die Sosiale Geregtigheid-staptog deelgeneem en was vol lof vir die inisiatief.
Die voorsitter van die US se Studenteraad, Masilo Silokazi, het by die vertrekpunt op die Braak 'n inspirerende boodskap gelewer wat die toon aangegee het vir die vrolike atmosfeer wat vir die res van die staptog geheers het. Die Sosiale Geregtigheid-staptog simboliseer die gesamentlike vasberadenheid om grense af te breek en brûe van begrip, empatie en deernis te bou, het Silokazi opgemerk.
“Dit daag ons uit om stereotipes raak te sien, vooroordele af te breek en 'n kultuur van respek en aanvaarding te kweek. Die kern van hierdie staptog is die vraag hoe ons sosiale geregtigheid 'n werklikheid op Stellenbosch en in Suid-Afrika kan maak. Deur slegs hier te wees en aan die staptog deel te neem, gee ons onsself die geleentheid om te leer, om begrip en gemeenskap te kweek en dit het 'n groter invloed as ons mag besef," het Silokazi ten slotte gesê.
Prof Thuli Madonsela, direkteur van die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid aan die US, het by die Universiteit se Ou Hoofgebou – waar 'n installasie by die Fakulteit Regsgeleerdheid die aanhef tot die Grondwet uitbeeld – die grondwetlike beginsels verduidelik wat die reg tot onderwys vir almal uitstippel. “Ons het nie per ongeluk ongelykhede in ons land nie. Hoewel niemand wat vandag aan die staptog deelneem, hierdie ongeregtighede geskep het nie, het ons 'n gedeelde verantwoordelikheid om ongelykheid te ontwrig sodat elke mens se potensiaal verwesenlik word," het Madonsela gesê.
Sy het die US se inisiatiewe geloof wat daarop gerig is om die gaping ten opsigte van akademiese finansiële ondersteuning te verklein, veral deur studente uit die sogenaamde “verlore middel" te teiken ten einde te verseker dat geen verdienstelike student agterbly nie. “Action for Inclusion en Bridge the Gap is nie net maniere om te verseker dat studente gradueer nie. Hierdie inisiatiewe help ook om te verseker dat hulle kos het. Dit is vir my pynlik om studente te sien wat honger klas toe moet gaan. Deur hierdie inisiatiewe te ondersteun, dra dié van ons wat bevoorreg is, by tot die bou van brûe," het Madonsela gesê.
Prof Wim De Villiers het die blywende uitwerking van gedwonge verskuiwings in die apartheidsera teen die agtergrond van die Hoërskool Lückhoff, wat in 1969 amptelik na Idasvallei verskuif is, aangespreek. “Die ongeregtigheid wat hier plaasgevind het, beïnvloed vandag nog ons Universiteit en dorp. Ons moet dit onthou en dit moet in ons gemeenskaplike gewete bly sodat ons 'n beter toekoms kan skep."
De Villiers het die deelnemers herinner aan die US se Restitusieverklaring wat in 2018 aanvaar is en het die US se voortgesette transformasiereis bevestig. “Dit is onvolledig en nie perfek nie, maar ons is vasberade. Dit is 'n proses om ons instelling te herfokus om 'n uitnemende universiteit toe te laat om werklik 'n vooraanstaande universiteit te word – 'n nasionale bate in diens van die samelewing wat aan al die mense behoort wat saam deur ons gange stap. Indien ons dit wil bereik, is die enigste pad vorentoe saam."
'n Afstammeling van een van die gesinne wat gedurende apartheid gedwing is om uit die middel van Stellenbosch te verskuif, Eon Hendrikse, het oor die behoefte aan strategiese restitusie vir sy gemeenskap gepraat. “Ek is die volgende geslag van Idasvallei. Ons moet mense inlig oor hoe die geskiedenis ons gevorm het. Vandag is 'n skrille herinnering aan hoeveel hulpbronne op die sentrale deel van die dorp gefokus word en hoeveel armoede en swaarkry nog steeds in die omliggende gebiede bestaan. Ons moet die Universiteit se kundiges en studente betrek om sosialebehoefte-ontledings te doen en te help om 'n volhoubare gemeenskap met sosiale kohesie te skep. My boodskap aan julle is om tot aksie oor te gaan. Dit is per slot van rekening waaroor vandag gaan: aksie vir insluiting."Die Sosiale Geregtigheid-staptog het op 'n feeslike noot afgesluit toe 'n plaaslike koperblaasorkes die stappers na die eindpunt op die Bethlehem-plaas in Kylemore vergesel het. Hier het almal verversings geniet en elkeen het 'n medalje van De Villiers ontvang.
Een van die beamptes van die geleentheid en 'n ambassadeur vir sosiale geregtigheid, Thembalethu Seyisi, het vanjaar se Sosiale Geregtigheid-staptog as 'n groot sukses beskryf. “Ons is trots daarop dat ons 'n wonderlike uiteenlopende groep mense bymekaar kon bring wat die beste van die Stellenbosse gemeenskap verteenwoordig. Die Sosiale Geregtigheid-staptog is 'n uitstekende manier om die natuurskoon van ons dorp te geniet, maar is terselfdertyd ook 'n treffende herinnering aan ons gedeelde verlede. Mense het na afloop van die staptog opgemerk dat dit 'n betekenisvolle en transformatiewe geleentheid was. Baie nuwe bande en vriendskappe is langs die pad gesmee."
Foto: Henk Oets