
US vier internasionale vennootskappe
Die 14de jaarlikse Stellenbosch Internasionale Akademiese Netwerke (SIAN) byeenkoms is onlangs by die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied. Besoekers van 27 vennootinstellings, afkomstig van 14 lande, het die geleentheid vanaf 5-9 April bygewoon. Dis aangebied deur die Nagraadse en Internasionale Kantoor (NGIK) om samewerkingooreenkomste met vennoot-universiteite van regoor die wêreld te vier.
Prof Wim de Villiers, rektor en visekanselier, het internasionale besoekers verwelkom en gesê die byeenkoms versterk bande met internasionale vennote en is belangrik vir gesamentlike navorsing en studente mobiliteit is. Hy het internasionaliseringsaktiwiteite by die US uitgelig en gesê die instelling lok personeel en studente van regoor die wêreld. "Ons akkomodeer internasionale studente van 117 verskillende lande. Verlede jaar het ons sowat 15% internasionale studente gehad, twee keer soveel as die nasionale gemiddelde."
Prof de Villiers het aan besoekers vertel dat die US 'n vooraanstaande akademiese instelling is en onder die beste in die wêreld gereken word. Volgens hom sal hierdie posisie verder versterk word met die aanstelling van 'n viserektor vir Strategiese Inisiatiewe en Internasionalisering binne die volgende paar maande.
Met internasionalisering die hooffokus gedurende die week, is daar ook gesprekke gevoer oor hoe om kwalifikasies in lyn te bring en mobiliteit aan te moedig. Die fokus is na Afrika verskuif met 'n werkswinkel oor die 2014 Addis-konvensie – die Konvensie oor die erkenning van studies, sertifikate , diplomas, grade en ander akademiese kwalifikasies in hoër onderwys in Afrika-state.
Mnr Joe Samuels, hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (SAKO), het agtergrondinligting oor die Addis-konvensie gegee en gepraat oor die potensiële rol daarvan in internasionalisering en hoe om beginsels na te kom. Samuels het gesê strukture is in plek omsamewerking oor grense , skakeling tussen lande op die vasteland en uitruil van idees aan te moedig.
Mnr André Muller, assistent direkteur: Akademiese Beplanning en Gehalteversekering (US), het 'n aanbieding oor die Harmonisering en Tuning projek waarby hy betokke is gedoen. Die projek is daarop gemik om kundigheid rondom spesifieke dissiplines saam te bring in 'n poging om begrip van verwagtinge en vaardighede verbonde aan kwalifikasies in Afrika te harmoniseer. Die uitdagings vir gesamentlike pogings en die waarskuwings om versigtig te wees met 'n "een-grootte-pas-almal" benadering is verder uitgelig in 'n aanbieding deur mnr Christopher Muller, koördineerder: Afrika Akademiese Netwerke by die NGIK. Muller se aanbieding het op die praktiese ervaring van personeel en studente mobiliteit via Afrika projekte gefokus.
Sprekers van Australië en Swede het op hul beurt perspektiewe van hul lande, met verwysing na die Bologna proses, verskaf. Hul het ervaringe van binne en buite Europa gedeel. Die lesse wat uit die dag se verrigtinge gekom het was dat verskille toegelaat moet word en daar 'n bereidwilligheid moet wees om praktyke volgens konteks aan te pas. Afgevaardigdes uit Japan en die Tsjeggiese Republiek het opsommings van hul instellings en hoëronderwys strukture in hul lande gegee.
Daar was ook geleentheid vir studente omaan die SIAN konferensie deel te neem. US-studente kon deelneem aan 'n internasionale studente mobiliteitsuitstalling waar hulle met verteenwoordigers van vennoot-universiteite oor studiegeleenthede by hul instellings gesels het. Ook deel van SIAN vieringe was die gewilde Internasionale Kosaand. Die US se internasionale studente het by hierdie geleentheid 'n feesmaal voorgesit met kos van hul onderskeie lande.
By die 2016 SIAN byeenkoms was, van links: Dorothy Stevens, adjunk-direkteur: NGIK; Joe Samuels, hoof uitvoerende beampte van die Suid- Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid; André Muller, assistent direkteur: Akademiese Beplanning en Gehalteversekering; en Robert Kotzé, senior direkteur: NGIK
Foto: Hennie Rudman
Klik hier vir fotos van die geleentheid.