Skip to main content
US teken MvV om te help volhoubare grondbestuur in Afrika

US teken MvV om te help volhoubare grondbestuur in Afrika

Department Research Development/ Afdeling Navorsingsontwikkeling
23 Oktober 2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) het die gebied van akademiese diplomasie en beleidsontwikkeling betree met die ondertekening van 'n Memorandum van Verstandhouding (MvV) om te help om die inwerkingstelling van die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (VODs) in Afrika.

Die US se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, prof Eugene Cloete, en prof Oliver Ruppel, Direkteur: DROP (Development and Rule of Law-program) het die samewerkingsooreenkoms namens die Universiteit onderteken. Die ander vennote wat die MvV op 10 Oktober 2019 onderteken het, is die Pan-Afrika-Parlement (PAP) en die Duitse Omgewingsagentskap, Umweltbundesamt (UBA).

Prof Cloete het by die ondertekening gesê DROP en die US in die algemeen is besig met baanbrekerswerk in Afrika rakende VOD-diplomasie, deur aan beleidsvormers nievoorskriftelike, maar hoogskundige raad te gee.

DROP, wat in 2012 gestig is, is aan die US se Waterinstituut (USWI) en die Fakulteit Regsgeleerdheid verbonde. DROP se werksaamhede is kruisdissiplinêr van aard met 'n sterk regs- en sosiopolitieke fokus op klimaatsverandering, geregtigheid, volhoubaarheid en transformasie. “DROP fokus op die versoening van die spanning tussen omgewingsvolhoubaarheid, ekonomiese ontwikkeling en menslike welstand met die oog op kritiese regs-, politieke, ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling in Afrika," het prof Ruppel gesê.

Die president van PAP, die hoogedele Roger Nkodo Dang, het die ooreenkoms namens sy organisasie onderteken. PAP is 'n liggaam van die Afrika-unie wat tot stand gebring is om die volle deelname van Afrika in die ontwikkeling en ekonomiese integrasie van die vasteland te verseker met die verdere doel om vrede, veiligheid, stabiliteit en die beginsels van menseregte en demokrasie in Afrika te bevorder en om goeie oorsigbestuur aan te moedig.

Die hoofdoel van die nuwe vennootskap is om die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (VOD's) van die Verenigde Nasies 2030 se volhoubaarheidsagenda doeltreffend te implementeer. Die vennote sal in hul eerste projek rondom die kwessie van neutraliteit van grondagteruitgang [i] (VOD-teiken 15.3) en volhoubare grondbestuur op die vasteland saamwerk," het prof Ruppel gesê.

Die projek word geldelik deur die Duitse Ministerie van Ontwikkelingsamewerking (BMZ), deur middel van die Deutsche Gesellschaft für Internationale Zusammenarbeit (GIZ) gesteun. Die doel is om 'n wetsontwerp vir volhoubare grondbestuur in Afrika te ontwikkel.

PAP en DROP word deur die Duitse Omgewingsagentskap (UBA) – Duitsland se sentrale federale owerheid vir omgewingsake – ondersteun onder toesig van die Duitse Federale Ministerie vir die Omgewing, Natuurbewaring en Kernveiligheid (BMU). Dr Harald Ginzky, 'n direkteur van die UBA, het die ooreenkoms tussen die drie partye wat saamwerk in VOD-diplomasie en beleidsontwikkeling tot voordeel van die vasteland van Afrika en verder, sterk aangemoedig.

(FOTO: 'n Stuk grond in Ethopië toon tekens van agteruitgang. Georgina Smith / CIAT.)

Vir meer inligting oor DROP, besoek: https://drop.sun.ac.za/

[i] Grondagteruitgan is 'n proses waarin die waarde van die biofisiese omgewing beïnvloed word deur 'n kombinasie van menslike prosesse wat op die land inwerk. Dit word beskou as enige verandering of versteuring van die land wat as nadelig of ongewens beskou word