
US-standpunt oor nasionale protesaksie
Die Bestuur het verskeie navrae oor die US se standpunt oor beroepe om die land op Vrydag, 7 April 2017, tot stilstand te bring, ontvang. Hierdie kwessie is gister (4 April) by ʼn vergadering van die Rektor se Bestuurspan breedvoerig bespreek.
Die US se standpunt rondom hierdie kwessie is soos volg:
· Die Bestuur is van mening dat die beste handelswyse vir die Universiteit is om op sy unieke bydrae tot die oplossing van die probleme van armoede, ongelykheid, korrupsie en werkloosheid in ons land gefokus te bly, spesifiek deur homself op onderwys en navorsing toe te spits.
· Daarom sal alle US-aktiwiteite op Vrydag, 7 April, soos geskeduleer voortgaan.
· Die Bestuur erken dat die nasionale verwikkelinge heftige nasionale debat laat ontstaan het en dat beroepe deur verskeie groeperinge, politieke partye en geloofsgemeenskappe, onder andere, gedoen is vir burgers om tot aksie oor te gaan.
· Die Bestuur respekteer die reg van personeel en studente om hulle opinies op verskeie wyses uit te druk, insluitend wettige, vreedsame protesaksie. Normale verlofreëlings geld vir alle personeellede.
· Die Bestuur moedig personeel en studente aan om aan oop, betekenisvolle en waagmoedige besprekings oor die nasionale verwikkelinge deel te neem, waar hierdie besprekings op kampus gereël is. Dekane en departementele hoofde moet verkieslik geken word in deelname aan geleenthede en besprekings , wat in ooreenstemming met werkskedules moet plaasvind.
· Die US is tans besig om met Universiteite Suid-Afrika (in Engels Universities South Africa of USAf) saam te werk om ʼn hoëronderwyssektor-opinie te formuleer.