
US staan goeie kans by 2016 NWTF-toekennings
Die Universiteit Stellenbosch (US) het oor die afgelope klompie jare goed gevaar by die jaarlikse Nasionale Wetenskap en Tegnologie Forum (NWTF)-toekennings. Vanjaar behoort geen uitsondering te wees nie. Met ses navorsers onder die finaliste vir die 2015/16 NWTF en South32-toekennings het die US beslis ʼn goeie kans op sukses.
Die NWTF/South32-toekenningsgeleentheid erken, vier en beloon uitnemendheid in wetenskap, ingenieurswese, tegnologie (WET) en innovasie in Suid-Afrika.
Die wenners word op Donderdag 30 Junie by 'n gala-geleentheid by Emperors Palace in Kempton Park aangekondig waartydens me Naledi Pandor, Minister van Wetenskap en Tegnologie, en amptelike beskermheer van die NWTF/South32-toekennings, die pryse sal oorhandig.
Volgens die organiseerders is dit ʼn uitsonderlike eer om ʼn finalis te wees. Vier van die ses US-finaliste sal elk in twee kategorieë meeding.
Prof Bert Klumperman, Uitgelese Professor in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap, is 'n finalis in die kategorie wat ʼn individu vereer vir sy of haar lewenslange bydrae tot WET en innovasie (wat strek oor ʼn tydperk van 15 jaar of meer). Hy is ook finalis in die kategorie: Kapasiteitsontwikkeling in navorsing of ingenieurswese.
Klumperman word as ʼn wêreldleier in Polimeerwetenskap beskou, veral vir sy werk oor nanogeneeskunde en die toepassing van polimere in biomedisyne. Hy spog met ʼn A-gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS), ʼn goue medalje van die Suid-Afrikaanse Chemiese Instituut (SACI) (2013) en die Sasol Chemie Innoveerder van die Jaar-toekenning (2015). Klumperman beklee ook die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel-inisiatief, oftewel South African Research Chairs Initiative (SARChi) se Leerstoel in Gevorderde Makromolekulêre Argitekture. Hy is ʼn mede-outeur van ongeveer 170 wetenskaplike publikasies en ʼn studieleier vir baie nagraadse studente.
Ook ʼn finalis in die kategorie wat ʼn individu vereer vir sy of haar lewenslange bydrae tot WET en innovasie oor ʼn tydperk van 15 jaar of meer is prof Michael Samways, Uitgelese Professor in die Departement Bewaringsekologie en Entomologie. Hy is ook finalis in die NWTF-GreenMatter-afdeling wat bydraes tot biodiversiteitsbewaring, omgewingsvolhoubaarheid en 'n groener ekonomie erken.
Samways het die afgelope 40 jaar ʼn beduidende bydrae tot veral insekbewaring en biodiversiteitsnavorsing gelewer en ook gehelp om Cousine-eiland in die Seychelles tot sy natuurlike glorie te herstel. Hy is die spanleier van die Mondi Ekologiese Netwerk-program, ʼn US-navorsingsgroep wat veral gemoeid is met die ontwikkeling en verfyning van bestuursbeginsels wat op ekologiese netwerke van toepassing is. Samways word as die produktiefste navorser wêreldwyd oor aspekte rondom insekbewaring beskou en het reeds tot meer as 375 wetenskaplike publikasies, waaronder 15 boeke, bygedra. Hy het ook verskeie toekennings ontvang.
Samways se kollega, prof Linus Opara, is ʼn finalis in die kategorië: Kapasiteitsontwikkeling in navorsing of ingenieurswese en ding ook mee om ʼn TW Kambule-toekenning vir navorsing en uitsette.
Opara is Uitgelese Professor in die Departement Hortologie en bekleër van die DWT/NNS se SARChi-leerstoel in Na-oes Tegnologie. Hy word beskou as die voorste wetenskapsleier op die gebied van na-oes tegnologie waarby die granaatbedryf baat. Volgens onlangse beramings deur die NNS het sy span reeds by die R65 miljoen se direkte en indirekte waarde tot Suid-Afrika se ontluikende granaatbedryf toegevoeg. Opara het verskeie internasionale toekennings ontvang waaronder die AU (Afrika Unie) Kwame Nkrumah Kontinentwye Wetenskapstoekenning in die Lewens- en Aardwetenskappe (2016) en die IMPRESSA-toekenning (2015) deur RUFORUM, 'n streekswye netwerk van universiteite in Afrika wat kapasiteitsontwikkeling in die landbousektor voorstaan.
Nog ʼn finalis in twee kategorieë is prof Johann Görgens, Direkteur van die Sentrum vir Prosesingenieurswese in die Departement Prosesingenieurswese, en ook Direkteur van Stellenbosch Biomass Technologies (Edms) Bpk. Hy ding mee om ʼn TW Kambule-toekenning vir navorsing en uitsette asook ʼn toekenning vir kapasiteitsontwikkeling in navorsing of ingenieurswese.
Görgens se navorsing fokus op plantbiomassa as volhoubare alternatief om in die mensdom se behoefte aan brandstof, chemikalieë, materiale en energie te voorsien. Plantbiomassa is ʼn alternatiewe, en potensieel lae-koolstof bron wat moontlik op verskeie maniere in die produksie van brandstof, chemikalieë, materiale en elektrisiteit aangewend kan word. Görgens het 102 publikasies in internasionale, eweknie-geëvalueerde vaktydskrifte en drie boekhoofstukke die lig laat sien. Hy dien op die redaksiekomitee van die tydskrif Biotechnology for Biofuels.
ʼn Kollega van Görgens, prof Coenraad Fourie van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese sal meeding in die kategorie: Navorsing wat lei tot innovasie deur ʼn klein, medium en mikro-onderneming.
Fourie het sagteware ontwikkel wat die korrekte uitleg van geïntegreerde stroombane in supergeleidende superrekenaars verifieer. Die sagteware word deur SUN Magnetics (Edms) Bpk, wat Fourie in 2015 gestig het, verkoop. Dit word deur fisici, ingenieurs, navorsingslaboratoria en navorsings- en ontwikkelingsmaatskappye in die VSA, Kanada, Frankryk, Duitsland, China en Japan gebruik. Fourie is ʼn B-gegradeerde navorser en het wyd in eweknie-geëvalueerde internasionale tydskrifte gepubliseer.
Ook onder die finaliste is Willem Botes, senior lektor in die Departement Genetika, wat in die kategorie: Navorsing wat lei tot innovasie deur ʼn korporatiewe organisasie benoem is. As planteteler en genetikus het Botes in 2007 die Planteteeltlaboratorium (US-PTL) by die Welgevallenproefplaas op die been gebring. Tans lei die US-PTL onder meer 'n nasionale voortelingsplatform wat deur Graan SA en die nasionale Departement van Wetenskap en Tegnologie befonds word. Die kultivars en kiemplasma wat die US-PTL jaarliks beskikbaar stel help produsente om hul winsmarges te verbeter omdat dit verhoogde opbrengs en laer insetkoste meebring.
- Foto: Profs Bert Klumperman, Michael Samways, Linus Opara, Johann Görgens, Coenraad Fourie en mnr Willem Botes.