Skip to main content
US se Konvokasie verkies 4 nuwe raadslede

US se Konvokasie verkies 4 nuwe raadslede

Korporatiewe Kommunikasie / Corporate Communications
04 Mei 2018

Die Konvokasie van die Universiteit Stellenbosch (US) het vier nuwe lede verkies om in die Universiteitsraad te dien:  mnr Charl Cillié, adv Jean Meiring en mnr Johan Theron vir die termyn 2 April 2018 tot 1 April 2022; en prof Joan Hambidge vir die termyn 2 April 2018 tot 1 April 2020.

Lede van die Konvokasie is genooi om nominasies in te dien vir die vier vakatures in die Raad. Aangesien meer as drie kandidate vir die vierjaartermyn genomineer is, en meer as een kandidaat vir die tweejaartermyn, het die verkiesingsprosesse vir die twee onderskeie termyne gelyktydig geloop. Die stemming het op 30 April 2018 om 12:00 gesluit. Die geldigheid van die stembriewe is geverifieer.

Mnr Cillié is die besturende direkteur by Infinity Web Solutions; adv Meiring is 'n advokaat en lid van die Johannesburgse Balie (Vereniging van Advokate); mnr Theron is 'n kommersiële litigant by Werksmans Prokureurs en prof Hambidge is 'n professor in Afrikaans & Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad (UK).

Prof Hambidge en mnr Theron het albei reeds vantevore in die Universiteitsraad gedien.

Die Universiteit Stellenbosch hersien tans sy Statuut wat onder meer die samestelling van sy statutêre liggame bepaal. Belanghebbers en lede van die publiek wat kommentaar wil lewer op die konsep-dokument kan die volgende skakel volg: www.sun.ac.za/statuut. Kommentaar kan na [email protected] gestuur word. Die sluitingsdatums vir bydraes is 28 Mei 2018. ​