Skip to main content
US se Anita Nel nou Hoofdirekteur; ontvang gesogte tegnologie-toekenning

US se Anita Nel nou Hoofdirekteur; ontvang gesogte tegnologie-toekenning

Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie (Martin Viljoen)
02 Augustus 2018

Me Anita Nel, verantwoordelik vir innovasie, besigheidsontwikkeling, kommersialisering en die Universiteit Stellenbosch (US) se interaksieplatform met die industrie, Innovus, is onlangs bevorder tot Hoofdirekteur: Innovasie en Besigheidsontwikkeling by die instelling.

Nel sê: “Dit is 'n wonderlike voorreg om erkenning op hierdie manier te ontvang en ek is dankbaar vir die geleentheid. Ek sien uit na die nuwe uitdagings en die professionele ontwikkelingsgeleentheid wat hierdie posisie vir my inhou."

Nel se rol het die afgelope paar jaar betekenisvol gegroei en in 2017 is Kommersiële Dienste (nou SunCom) ook by die Innovus-stal gevoeg as deel van die Universiteit se strategie om die instelling se vyfde inkomstestroom in een eenheid te konsolideer.​

“Ek is deel van ʼn fantastiese span by Innovus en SunCom wat passievol is oor uitnemendheid, hul werk geniet en wat op nuwe uitdagings floreer," sê sy. “Ons het die afgelope paar jaar ʼn aantal indrukwekkende inisiatiewe van stapel gestuur, insluitend die LaunchLab-besigheidsinkubator. Ons sal binnekort verskeie nuwe en opwindende ondernemings uitrol, wat die US se status as ʼn bloeiende en entrepreneuriese universiteit sal versterk - inderdaad die mees innoverende plek in Afrika."

Prof Stan du Plessis, US-Bedryfshoof, sê Nel het ʼn fantastiese rekord as hoof van die US se tegnologie-oordragspan. “Sy speel ʼn betekenisvolle rol om die US se impak op die samelewing te verhoog via die wetenskaplike uitset van ʼn navorsingsintensiewe universiteit. Terselfdertyd het sy en haar span ʼn entrepreneuriese kultuur binne die US gebou, nie net in ons kommersiële aktiwiteite nie, maar ook in samewerking met akademici."

Van die vyf uitvoerende hoofde aan die US is drie vroue. Benewens Nel is dit Ilhaam Groenewald (Maties Sport) en Nicolette van den Eijkel (Fasiliteitsbestuur).

InspiringFiftySA

Die Nederlandse, nie-winsgewende organisasie, Inspiring Fifty, wat die inspirerende vroulike rolmodelle in die tegnologie-industrie in Nederland, Frankryk, Europa, die Nordiese en in Suid-Afrika bevorder, het gister (1 Augustus 2018) Nel as een van die 2018 #InspiringFiftySA-wenners benoem. Die Nederlandse konsul-generaal in Suid-Afrika, me Bonnie Horbach, het die wenners aangekondig.  

Die toekennings gee erkenning aan Suid-Afrikaanse vroue aan die voorpunt van die impak wat  die wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en medisyne (STEM) sektor maak. 

Mede-ontvangers met Nel met US-bande is onder meer Anri van der Spuy, Bestuurder by die Afrika Digital Policy Project, en Laura Ilunga, helikopter- en vliegtuigloods by Starlite Aviation Operations and Crew Resources International

Met die aankondiging van die name van die ontvangers het Horbach gesê: “Gemeet aan die kaliber van die genomineerdes het die beoordelaars dit nie maklik gehad om die finale vyftig te kies nie. Hierdie baanbrekende vroue word nie net in Suid-Afrika erken nie, maar sal deel vorm van ʼn wêreldwye netwerk van vroue."