
US se 10de Biblioteeknavorsingsweek bevorder navorsingskundigheid
Die tiende Biblioteeknavorsingsweek – 'n jaarlikse vlagskipgeleentheid van die Universiteit Stellenbosch (SU) se Biblioteek- en Inligtingsdiens wat van 16–20 Mei 2022 gehou is – getuig van die US se toewyding om die navorsingskundigheid van studente, akademici en navorsers uit te bou en sy belofte om navorsing te lewer in diens van die samelewing na te kom.
Me Ellen Tise, Senior Direkteur: Biblioteek- en Inligtingsdiens het in haar verwelkoming van die meer as 110 virtuele en persoonlik teenwoordiges by die bekendstellingsfunksie verlede week opgemerk dat die belangstelling in die navorsingsweek toegeneem het sedert dit in 2014 begin is.
“In 2020 het 802 navorsers die week bygewoon en in 2021 het dit tot 992 toegeneem. Altesame 996 belangstellendes het tot dusver vanjaar geregistreer en ek hoop ons gaan nog die 1 000-kerf oorskry," het sy gesê.
Die navorsingsweek, met die tema “Mapping your research journey" (Karteer jou navorsingsreis), het virtueel plaasgevind en inligting gedeel oor al die stappe van die navorsingsproses.
Prof Eugene Cloete, die US se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, het die week amptelik geopen met die boodskap dat navorsing 'n duidelike eindbestemming (doelwit) moet hê.
“Die eindbestemming is geweldig belangrik. Ek vra ons PhD- en na-doktorale studente dikwels hoekom hulle doen wat hulle doen. Wat is die doelwit? Wat is die eindbestemming? 'n Mens moet weet wat jou eindbestemming is wanneer jy 'n reis onderneem."
Volgens Cloete is die beloning groot as die navorsing eers voltooi en die eindbestemming bereik is. “Wanneer dit gebeur en jou navorsing gepubliseer word, lê die bevrediging daarin dat jy iets oorspronkliks en nuwe inligting (kennis) gelewer het. En dít is baie bevredigend. Ek dink trouens die meeste navorsers raak verslaaf aan daardie gevoel."
Ter afsluiting van die bekendstelling het prof Ronelle Carolissen van die US se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe 'n paneelbespreking oor navorsingsetiek gefasiliteer. Die paneellede het bestaan uit US-personeellede mnr Jerall Toi (senior institusionele inligtingsbeampte), dr Marilize Burger (senior dosent in ortopediese chirurgie), me Clarissa Robertson (koördineerder: navorsingsetiek), en me Katlego Mthelebofu (dosent in handelsreg).
“Die een groot aspek waaroor ons almal angstig raak, is etiek. Ons moet onsself met inligting bemagtig wat angstigheid verminder en die navorsingsetiekproses ʼn plesier maak," het Carolissen gesê.
“Etiek en om meer oor etiek in navorsing te leer, gaan oor die proses en om te leer hoe om met ander navorsers en ander mense wat aan ons navorsingsprojekte deelneem, te skakel," het sy bygevoeg.
Biblioteekpersoneellede, kundiges van ander US-afdelings en verskaffers van bekende navorsingsdatabasisse het 15 webinare gedurende die Biblioteeknavorsingsweek aangebied. Die subtemas van dié webinare was:
* Rigging the ropes (Installeer die takelwerk): Soekstrategieë met Google en Google Scholar; skryf van voorstelle; letterkundige resensies.
* Navigating the new (Navigeer die nuwe): Gemengde metodes-navorsing; statistiek in navorsing; SAGE-navorsingsmetodes; kwalitatiewe data-ontleding met Atlas.ti.
* Traversing the tides (Deurkruis die getye): Akademiese wangedrag; Mendeley; gelyksoortigheidsindeks (Turnitin); kopiereg.
* Bridging uncharted waters (Bevaar onbekende waters): Maksimaliseer jou navorsingsimpak; sensitiewe navorsingsdata; Wiley-ooptoegangooreenkoms.
Volgens Tise is verskillende navorsingsprosesse en -aktiwiteite gedurende die week behandel wat gewissel het van skryf, gemengde navorsingsmetodes en navorsingsliteratuur tot statistiek, die gebruik van navorsingsprogramme en navorsingsdatabestuur. “Hierdie prosesse en aktiwiteite is almal bemagtigend en bied werktuie vir navorsers wat 'n navorsingsreis onderneem," het sy gesê.
Kliek hier vir die volledige program van die Biblioteeknavorsingsweek.
Navrae: Marié Roux by [email protected] of 021 808 9917
Onderskrif:
Die bekendstelling van die Biblioteeknavorsingsweek was bygewoon deur (van links) mnr Siviwe Bangani (seremoniemeester); mnr Jerall Toi, dr Marilize Burger, Katlego Mthelebofu, me Clarissa Robertson, prof Ronelle Carolissen, me Ellen Tise en prof Eugene Cloete.
Fotograaf: Bronwyn Bruton