
US-rektor ontvang eregraad van vooraanstaande universiteit in die VK
Prof Wim De Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), ontvang vandag (Maandag 21 November 2016) ʼn eregraad van Coventry Universiteit in die VK. Die graad, Doktor in die Wetenskap, honoris causa, is aan hom toegeken ter erkenning van sy akademiese leierskap en werk as geneesheer en navorser in die mediese wetenskap.
Coventry Universiteit sê in ʼn verklaring dat prof De Villiers se visie vir die US ooreenstem met dié van Coventry Universiteit, wat gelei het tot skakeling tussen die twee universiteite op die gebied van vrede en versoening, die skep van ʼn ondernemingsgees, agri-ekologie en water en gesondheid. "Sy agtergrond as dokter en navorser het gelei tot die groei en gedeelde belange om navorsing en onderrig by beide universiteite te transformeer."
"Dit is ʼn groot eer om die eregraad van Coventry te ontvang. Dit is ook ʼn weerspieëling van die groeiende verbintenis tussen die twee universiteite en daarom is dit ook ʼn erkenning van die goeie werk wat by beide instellings gedoen word om akademiese uitnemendheid in diens van belanghebbers te bevorder. Beide instellings is daartoe verbind om betekenisvolle verandering in die samelewing te bring.
Prof John Latham, Visekanselier van Coventry Universiteit, sê hulle is verheug om die harde werk en toewyding van uitsonderlike individue te erken.
"Hulle dien as ʼn inspirasie vir ons studente en graduandi."
Foto: Me Catherine en prof Wim de Villiers (Foto: Ede and Ravenscroft.)