Skip to main content
US Regskliniek eerste regskliniek van ’n universiteit om toestemming vir groepsgeding te kry

US Regskliniek eerste regskliniek van ’n universiteit om toestemming vir groepsgeding te kry

Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
01 Augustus 2023

​​Die Grondwethof het 'n aansoek vir verlof tot appèl in 'n hoë-profiel bedrogsaak verwerp, wat dit nou vir die Universiteit Stellenbosch (US) Regskliniek moontlik maak om met 'n groepsgeding-verhoor te begin – die eerste in sy soort om deur 'n Suid-Afrikaanse universiteitsregskliniek ingestel te word.

Die saak hou verband met die beweerde bedrogsaak waarin die Lifestyle Direct Group International na bewering van 2015 tot 2019 duisende verbruikers bedrieg het. Die Regskliniek het vir die bekragtiging van 'n klasaksie teen die webtuistes en hulle eienaars – wat hierdie verbruikers mislei het om te glo hulle doen om 'n lening aansoek, terwyl hulle in werklikheid hulle onwetend tot 'n subskripsie vir “regsdienste" verbind het – aansoek gedoen.

Die hooggeregshof het die klasaksie in 2021 bekragtig. Dit is slegs die tiende klasaksie in die land wat suksesvol bekragtig is.

Ná hierdie suksesvolle bekragting het die partye wat verantwoordelik was vir die bedrogspul, drie keer misluk om teen die bekragtiging te appelleer. 'n Finale poging om appèl aan te teken, is einde 2022 by die Grondwethof ingedien.

“Ons is verheug dat die finale poging misluk het om die instelling van die klasaksie namens duisende verbruikers wat bedrieg is, te dwarsboom en dat ons nou met die groepsgeding-verhoor kan begin. Meer inligting oor die klasaksie sal ter gelegener tyd bekend gemaak word," sê dr Stephan van der Merwe, senior toesighoudende prokureur by die Regskliniek en dosent aan die US. 

Die Regskliniek is by verskeie aspekte van die regsberoep betrokke, insluitende die verskaffing van regsdienste. Ondanks die pandemie, kon die US Regskliniek die afgelope vyf jaar direkte regsdienste aan meer as 6 300 mense bied, waarvan talle nie andersins toegang tot regsadvies sou gehad het of dit sou kon bekostig nie.

Aangesien talle Suid-Afrikaners nie regsdienste kan bekostig nie, lewer die Regskliniek 'n groot bydrae tot die verbetering van regstoegang, sê prof Theo Broodryk, besturende prokureur van die US Regskliniek.

Volgens die Regskliniek se Sosiale Impak-verslag 2018–2022, het 41% van diegene wat die Kliniek om hulp aangeklop het, vir regshulp gekwalifiseer, terwyl die meerderheid – 35% – hulp met gesinsverwante kwessies benodig het. Net meer as 'n derde van alle konsultasies het met uitsettingskwessies verband gehou. Dit is interessant dat 55% van mense wat regsdienste benodig het, vroue was en amper die helfte (48%) het in die Stellenbosse munisipale gebied gewoon.

As deel van die Finansiële Geletterdheidsprojek se gemeenskapsdeelname-inisiatiewe, kon studente wat aan die projek deelgeneem het, meer as 2 000 leerders en plaaswerkers in die gebied in 2018, 2019 en 2022 met finansiële geletterdheidsvaardighede toerus. Die Regskliniek het ook gemeenskapsgebaseerde opleidingsessies aangebied oor onderwerpe wat gewissel het van testamente tot kinderregte.

Onderrig is een van die Regskliniek se kernfokuspunte en finalejaar-regsstudente word aangemoedig om belangrike vaardighede in 'n kliniese omgewing te slyp deur regsdienste aan Stellenbosch se behoeftige gemeenskap te bied. Hierdie praktiese opleiding het selfs gedurende die pandemie voortgeduur terwyl daar aan die toepaslike vereistes vir sosialeafstandskepping voldoen is. Volgens Van der Merwe, wat vir die kliniese regsopvoedingsprogram verantwoordelik is, “is studente 'n integrale deel van die Kliniek se pogings om ons kliente só by te staan en te bemagtig dat dit ook die studente se bewustheid van sosiale geregtigheid verhoog".

In ooreenstemming met sy visie om 'n gemeenskap te skep wat ten opsigte van die wet bemagtig is en beter in staat is om hulle regte uit te oefen, het die Regskliniek die afgelope paar jaar aan verskeie hoë-impak litigasiesake deelgeneem.

Nog 'n saak wat openbare belangstelling gelok het, was die Kliniek se geskrewe voorlegging aan die Nasionale Tesourie in 2018 om vroulikehigiëneprodukte as nul-BTW-items te verklaar. Die sogenaamde tamponbelasting is 'n jaar later afgeskaf na aanleiding van verskeie vertoë wat gemaak is, insluitend dié van die Kliniek, om Suid-Afrika in ooreenstemming te bring met lande soos Kenia, Kanada, Duitsland en Australië. 

Die US Regskliniek word internasionaal erken as een van die voorste sosialegeregtigheidsregsfirmas in Afrika en in 2021 is die Kliniek by die jaarlikse Globale Regskundige Toekennings as die Suid-Afrikaanse sosialegeregtigheidsregsfirma van die jaar aangewys.​