
US-personeel vier welwees by jaarlikse sport- en ontspanningsdag
Ten spyte van 'n warm, bedompige somersdag wat die meeste mense in hul koel kantore sou laat wegkruip het, het honderde personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) na die Coetzenburg sportterrein gestroom om aan nog 'n prettige en suksesvolle jaarlikse Institusionele Sport- en Ontspanningsdag deel te neem.
Altesame 433 personeellede het in spanne aan verskeie tradisionele en ontspannende sportsoorte deelgeneem, wat 'n pretloop, zumba aërobiese oefeninge, skaak, vlugbal, rolbal, sokker, veerpyltjies en lusrugby (tag rugby) ingesluit het.
Personeel kon ook deur die loop van die dag rondom die braaivleisvure kuier en heerlike kos en goeie geselskap geniet.
Die US se Sport- en Ontspanningsdag is in 2013 bekendgestel om die gesondheid en welstand van die Universiteit se personeel te help bevorder deur vir hulle die geleentheid te gee om weg te kom van die kantoor en tyd saam te spandeer, verhoudings en vriendskappe te bou, te ontspan en pret saam met kollegas te hê.
“Die lewe gaan oor 'n gesonde balans," sê dr Choice Makhetha, Senior Direkteur: Studentesake aan die US, wie se afdeling met die louere as algehele wenners van die sportdag weggestap het.
“Vir ons beteken die feit dat ons as algehele wenners gekroon is, dat ons 'n span het wat omgee. Dit bewys net weer dat dit wonders kan doen as 'n span saamwerk en elkeen se kreatiwiteit na die tafel toe gebring word. In die Afdeling Studentesake glo ons dit is belangrik om te werk en te speel. Dit is wonderlik om kollegas te hê wat gereed is om te speel, want speel wakker kreatiwiteit aan en herinner ons hoe belangrik dit is om saam tyd weg van die kantoor af te spandeer," sê Makhetha.
Die US se rektor en visekanselier, prof Wim de Villiers, het die personeel by die geleentheid verwelkom en die organiseerders van die sportdag bedank. Hy het ook beklemtoon hoe belangrik die bevordering van personeel se welstand by die US is, en deur middel van spanbougeleenthede soos hierdie help dit om voorkeurwerkgewers by die Universiteit te skep.
Die Institusionele Sport- en Ontspanningsdag word deur 'n reëlingskomitee, bestaande uit personeel van die Afdeling Menslike Hulpbronne: Werknemer Welwees en Maties Sport, gefasiliteer.
Die Afdeling Menslike Hulpbronne: Werknemer Welwees streef daarna is om die gesondheid en welstand van US-personeel te bevorder deur toeganklike, doeltreffende en professionele dienste aan almal te verskaf deur die bevordering van gesondheid, bystand en ondersteuning. Die afdeling wil ook verseker dat die Universiteit 'n goed gebalanseerde werkerskorps het wat optimaal funksioneer in ʼn bevorderlike, sorgsame en ondersteunende werksomgewing.
Volgens die hoof van Werknemer Welwees: Shibu Mamabolo, is geleenthede soos die US Sport- en Ontspanningsdag 'n goeie manier om personeel se welstand en spanwerk tussen kollegas te bevorder.
“Die institusionele sport- en ontspanningsdag is 'n belangrike instrument vir sosiale samesyn, terwyl liggaamlike fiksheid en personeel se welstand terselfdertyd beklemtoon word. Elke jaar hoop ons dat die personeel in 'n ontspanne omgewing in die buitelug sosiaal sal meng, terwyl hulle betekenisvol spanbou en die belangrikheid van selfsorg besef," sê Mamabolo.
Die personeel het ook deur die loop van die dag die geleentheid gekry om vriendskaplik teen mekaar mee te ding. Die ander wenspanne van die sportaktiwiteite was:
- Sokker – Afdeling Studentesake
- Vlugbal – Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese, Fakulteit Ingenieurswese
- Lusrugby – Maties Sport-personeel
- Netbal – Afdeling Studentesake
- Toutrek – Informasietegnologie (IT)


Shawn Hendrikse, administratiewe bestuurder by die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese, sê die sportdag is die ideale geleentheid vir beide ondersteunings- en akademiese personeel om tyd af te vat en hul kragte in 'n ontspanne omgewing saam te snoer, pret te hê en van die uitdagings by die werk te vergeet.
“Die hoogtepunt was beslis toe ons die vlugbal gewen het. Die span het af en toe deur die loop van die jaar sosiaal bymekaargekom om te oefen. Ons oorwinning in die kompetisie is 'n bewys dat ons samekomste nie net goeie verhoudings gebou het nie, maar ook kompetisies kan wen. Dit is beslis 'n goeie voorbeeld van hoe samewerking wonders kan verrig. Hulle doel was om pret te hê en op die ou einde het hulle as wenners uit die stryd getree," sê Hendrikse.