Skip to main content
US-navorser help om wynkelders se afvalwater meer volhoubaar te maak

US-navorser help om wynkelders se afvalwater meer volhoubaar te maak

Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
30 April 2020

Met die voortslepende waterskaarstes in die Wes-Kaap en die moontlikheid dat droogtes al hoe algemener gaan word namate aardverwarming vererger, probeer al hoe meer navorsers nuwe en innoverende maniere vind om bronne te herstel water te hergebruik.

Rene Naidoo, 'n postdoktorale navorsingsgenoot by die Universiteit Stellenbosch (US) se Instituut vir Wynbiotegnologie (IWBT), is een van daardie navorsers.

Sy werk tans aan 'n innoverende navorsingsprojek wat daarop gemik is om die Suid-Afrikaanse wynbedryf te help om meer geïntegreerde biologiese behandelingstelsels vir afvalwater te ontwikkel. 'n Benadering van biosuiwering word gevolg om waardevolle byprodukte voort te bring, terwyl dit terselfdertyd koolsuurgas afsonder as 'n manier om meer koolstof-neutrale omgewings te skep.

Naidoo sê sy wou nog altyd gehad het haar navorsing moet 'n groter doel hê.

“As 'n navorser stel ek die meeste daarin belang om te verstaan hoe stelsels werk. Ek is egter ook van mening dat ons aktief na maniere moet soek om die gaping tussen akademiese en toegepaste navorsing te oorbrug deur volhoubare bedryfsoplossings te vind. Gegewe die groot hoeveelheid afvalwater wat jaarliks deur die Suid-Afrikaanse wynbedryf gegenereer word, is dit noodsaaklik dat ons maniere vind om waterbronne te bewaar en te herbruik sodat die bedryf tydens tydperke van waterskaarstes kan floreer."

Naidoo se ouers het gedurende haar kinderjare in die noordelike voorstede van Kaapstad by haar 'n liefde vir boeke gekweek, wat haar belangstelling in beide die mediese en lewenswetenskappe geprikkel het.

Sy het beide haar voorgraadse en nagraadse wetenskapstudies in molekulêre en selbiologie aan die Universiteit van Kaapstad voltooi. Naidoo het ook as 'n postdoktorale navorser by die Universiteit van Wes-Kaapland se Instituut vir Mikrobiese Biotegnologie en Metagenomika gewerk. Sover het al haar projekte 'n sterk alge-biotegnologiese inslag gehad en het sy kennis in beide makro- en mikro-alge opgedoen.

In 2014 het die US 'n geleentheid aan Naidoo gebied om haar navorsing in 'n alge-verwante studie voort te sit. Sy doen die afgelope ses jaar biotegnologiese navorsing wat op die volg van gemeenskapsekologiese benaderings fokus om 'n gemengde kultuur-biologiese behandelingstelsels vir wynkelders se afvalwater te ontwikkel.

Naidoo se navorsing ondersoek nie net volhoubare maniere om afvalwater skoon te maak en te ontgiftig sodat die vir besproeiing of skoonmaakdoeleindes hergebruik kan word nie. Sy vind ook maniere om waardevolle bioprodukte soos pigmente, vitamiene en farmaseutiese produkte op 'n volhoubare en omgewingsvriendelike manier te vervaarding.

Namate die uitwerking van aardverwarming en klimaatsverandering al hoe sigbaarder word, sê Naidoo sy wil hê haar navorsing moet help om “funksionele afvalwater-ekostelsels" te ontwikkel deur sintetiese ekologiesgebaseerde benaderings te gebruik terwyl sy “kostedoeltreffende behandelings" ontwikkel wat ook vir kleiner wynkelders voordelig sal wees.

“My navorsing is baie interdissiplinêr en bring kundigheid in mikrobiologie, sintetiese ekologie, ekostelsel-ingenieurswese en die bioremediëring van afvalwater byeen. Ek is ontsaglik dankbaar vir prof Florian Bauer wat aan my hierdie unieke geleentheid gebied het om my agtergrond van alge-biotegnologie met sy wynekostelsel-gesentreerde navorsing te kombineer om my in staat te stel om 'n nis-navorsingsgebied te ontwikkel."

Daar is tans geen kommersiële biogebaseerde algebedrywe in Suid-Afrika wat op die produksie van bioprodukte uit alge vir gesondheids- en geneeskundige toepassings fokus nie. Naidoo se doelwit vir die lange duur is om haar navorsing na ander tipes afvalwater soos voedsel- en brouery-afvalwater uit te brei en te werk aan die vestiging van biogebaseerde algebedryf in Suid-Afrika.