
US mede-aanbieder van internasionale kongres oor globale gesondheid
“Tegnologiese en tegnokratiese ingryping is nie genoeg om gesondheid en gelykheid oor die langtermyn te verseker nie. Daar moet ʼn einde gebring word aan die onregverdige verspreiding van hulpbronne en mag en die strukturele geweld en onreg wat armoede en ongelykheid in ons wêreld ondersteun. Ons moet ons pogings verdubbel om hierdie visie te bereik."
Dit was die slotsom van prof Jimmy Volmink, dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, se toespraak by die 9de jaarlikse kongres van die Konsortium van Universiteite vir Globale Gesondheid (KUGG), wat onlangs in New York, in die Verenigde State (VS), aangebied is. Die kongres se tema was “Gesondheidsongelykheid: ʼn Tyd vir Aksie" en is gesamentlik aangebied deur Columbia Universiteit (VS), die Universiteit Stellenbosch (Suid-Afrika), en die Universiteit van Peradeniya (Sri Lanka).

Volmink het ook navorsing uitgelig wat toon hoe ongelykheid die samelewing benadeel deur, byvoorbeeld, demokrasie te ondermyn; sosiale kohesie en stabiliteit te bedreig; ongelykheid in gesondheid, opvoeding en lewenskanse te bedreig; en pogings om armoede te verlig, belemmer.
Die Universiteit Stellenbosch se rektor en visekansellier, prof Wim de Villiers, was ook deel van die afvaardiging wat die kongres bygewoon het. “Die KUGG-kongres het 1 800 leiers in die velde van gesondheid, ingenieurswese, besigheid, wetenskap en opvoeding bymekaar gebring. Dit is ʼn kragtige platform waarop die Universiteit Stellenbosch ten toon gestel word, en verhoog ons internasionale profiel," het De Villiers gesê.
Hy het aan twee paneelbesprekings deelgeneem, naamlik, "Die impak van klimaatsverandering en omgewingsagteruitgang op gesondheidsuitkomste"; en "ʼn Gesprek met leiers in globale gesondheid".
KUGG is in 2008 gestig en is ʼn niewinsgewende konsortium van universiteite, organisasies en individue van oor die wêreld wat uitdagings in globale gesondheid aanspreek. Die Universiteit Stellenbosch was die eerste Suid-Afrikaanse universiteit om ʼn lid te word van KUGG.
Prof Hester Klopper, die Universiteit Stellenbosch se Viserektor: Strategie en Internasionalisasie, het ook die kongres bygewoon en het ʼn paneelgesprek getitel “Die oorlog op vroue" gemodereer. Sy is ook onlangs benoem tot raadslid van KUGG en sal vir ʼn drie-jaar termyn van 2018-2021 dien.
“Dit is ʼn groot eer om die eerste Suid-Afrikaner te wees wat benoem is tot raadslid van KUGG. Dit gee my die geleentheid om die Universiteit Stellenbosch in die internasionale arena te verteenwoordig, en ook om die Departement Globale Gesondheid te versterk. Die departement is in 2016 by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe gestig. Dit bied my ook die geleentheid om by te dra tot globale gesondheid en die koppeling met die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte," het Klopper gesê.
Onderskrifte
Bannier: Prof Jimmy Volmink, Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe lewer ʼn toespraak by die kongres van die Konsortium van Universiteite vir Globale Gesondheid wat onlangs in New York, in die Verenigde State, gehou is.
Bo links: Die Universiteit Stellenbosch se rektor en visekansellier, prof Wim de Villiers.
Bo regs: Prof Hester Klopper, die Universiteit Stellenbosch se Viserektor: Strategie en Internasionalisasie het ʼn paneelgesprek getitel “Die oorlog op vroue" gemodereer.
Fotos: Verskaf deur KUGG