
US hard aan die werk om uit te blink in alles wat hy doen
Verskeie onderwerpe wat strek van die bekendstelling van die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke tot die implementering van 'n nuwe finansiële stelsel was onder die kollig in die oorsig oor die jongste verwikkelinge by die Universiteit Stellenbosch (US) waaroor personeellede onlangs ingelig is.
Die Rektor en Visekanselier van die US, prof Wim de Villiers, het by die US se jongste personeelbyeenkoms op Dinsdag, 27 Augustus 2019 meer inligting oor die US se nuwe Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke verskaf. De Villiers het gesê die Skool is uniek omdat dit nie tot 'n enkele akademiese dissipline beperk is nie, maar regoor al tien fakulteite met interdissiplinêre samewerking funksioneer. “Die wêreld is vinnig besig om te verander – veral in terme van die insameling, deel en ontginning van data – en die nuwe Skool is die US se aandeel in die ontvouing van die toekoms.
“Ons moet ons studente voorberei op die nuwe wêreld van werk waar die ontdekking van bruikbare kennis uit data 'n integrale deel gaan wees van dit wat hulle doen … Ons wil gegradueerdes lewer wat voorloop en uitblink in 'n diverse wêreld. Ons wil hê hulle moet burgers van die 21ste eeu word wat betrokke is; hulle moet agente van verandering wees wat 'n positiewe uitwerking op die samelewing het waar hulle ook al gaan."
De Villiers het ook by die byeenkoms aangekondig dat die Rektoraat besluit het dat die Universiteit Stellenbosch gaan wegbeweeg van sy huidige gefragmenteerde “tuiste van handelsmerke en logo's" na 'n verenigde monolitiese handelsmerk-argitektuur. “Daar is net een Universiteit Stellenbosch, daar kan dus net een Universiteit Stellenbosch-handelsmerk wees."
Hy het gesê daar is tans 170 handelsmerke wat gebruik word in die verskillende US-omgewings. “Ons funksioneer in 'n hoogs mededingende omgewing, waar ons gelykertyd met nasionale en wêreldwye uitdagings werk. Hoe suksesvol ons ons handelsmerk bestuur, speel 'n beslissende rol om die beste personeel en studente te lok. Ons moet 'n gelykvormige en konsekwente narratief hê."
Nog 'n aankondiging deur De Villiers was dat die Universiteit Stellenbosch (US) dit oorweeg om die “Wêreldwye gedragskode vir navorsing in omgewings wat arm is aan hulpmiddele" te aanvaar. Dit sal as een van die maatreëls dien om enige herhaling van die pyn en woede wat deur die publikasie van 'n kontroversiële artikel oor ras en kognisie deur US-navorsers in 'n internasionale vaktydskrif vroeër vanjaar veroorsaak is, te voorkom.
“Ons wil nie hê so iets moet ooit weer gebeur nie; as daar tekortkominge in ons prosesse is, moet ons dit regstel," het hy aan die personeellede teenwoordig asook diegene wat die geleentheid per regstreekse stroomuitsending gevolg het, gesê.
De Villiers het egter beklemtoon dat dit belangrik is om kennis te neem dat hierdie enkele stuk navorsing geensins 'n weerspieëling die gehalte, etiek en waardes van die Universiteit Stellenbosch se uitmuntende navorsingsprogram is nie.
“Die Navorsingskomitee het aanbeveel dat ons die wêreldwye gedragskode aanvaar; dit geniet tans aandag saam met die ander voorstelle … ons is verantwoordbaar vir ons hoogste waardes, naamlik integriteit, maatskaplike geregtigheid en uitnemendheid, in alles wat ons doen," het die Rektor gesê.
Ander lede van die Rektoraat het 'n oorsig van verskeie institusionele prosesse verskaf.
Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisasie, het die personeel op hoogte gebring oor die prosesse wat verband hou met die implementering van die US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024. Sy het die onderskeie prioriteite in die ses kern strategiese temas uitgelig. Van die belangrikste prioriteite sluit die volgende in:
- Finansiële volhoubaarheid en hernuwing (Fakulteite PASD en Onderrig)
- Billike toegang met studentesukses in die onderrigprogramme van die US
- Volle benutting van belanghebberverhoudings en die US se strategie vir Internasionalisasie
- Ondersteuning met inligtingskommunikasietegnologie vir inwonende en hibriedeleerstudente
- Toename in internasionale navorsingskontrakte en befondsing
- Gesondheid en welstand van personeel en studente
- Toename in doeltreffendheid, doelmatigheid en beweeglikheid van MHB-prosesse en -praktyke
Prof Stan du Plessis, Bedryfshoof, het 'n oorsig van SUNFin, die nuwe finansiële stelsel wat tans geïmplementeer word, gegee. Die nuwe stelsel, Oracle ERP Cloud Financial Solutions, is 'n uitgebreide, geïntegreerde en skaalbare finansiële bestuursoplossing wat die US se gedesentraliseerde Verantwoordelikheidsentrumbestuurmodel in werking sal stel en sal ondersteun. Du Plessis het gesê die projek verloop volgens skedule en binne begroting.
Die SUNStudente-projek, wat saam met die SUNFin-projek loop, sal die inwerkingstelling van 'n nuwe studente-inligtingstelsel behels. Die Academia-sagteware, verskaf deur SeroSoft Solutions, sal hiervoor gebruik word. Dr Ronel Retief, die US se Registrateur, het gesê die nuwe stelsel beloof om standvastig en betroubaar, maar tog ook buigbaar, modern en student-gefokus te wees.
Prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig, het personeel oor die jongste studentverwante voorvalle op kampus, insluitende die brand by Huis ten Bosch, ingelig. Schoonwinkel het die personeel en studente geloof vir hul ondersteuning.