
US en Volkskerk van Afrika sluit ooreenkoms
"Dit is ʼn teken van ons voortgesette verbintenis tot ons rol in die gemeenskap en tot dit wat die Universiteit kan doen in terme van die regstelling van ons verdeelde verlede."
Só het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), Dinsdag (10 Mei 2016) gesê by die ondertekening van ʼn ooreenkoms tussen die US en die Volkskerk van Afrika. Die ondertekeningsgeleentheid het by die US se Fakulteit Teologie plaasgevind. Prof De Villiers en Dr Donald Katts, moderator van die Volkskerk van Afrika, het die ooreenkoms namens die twee instansies onderteken.
Ingevolge die ooreenkoms word die Volkskerk van Afrika 'n kerklike vennoot van die US om studente van dié kerk by die Fakulteit Teologie as predikante op te lei.
Die partye kom ook ooreen, sover dit redelik moontlik en akademies verdedigbaar is, dat die US die Volkskerk van Afrika se behoeftes in alle teologiese kursusse vir die opleiding van Christelike leiers, diens aan die kerk en leraars wat by die universiteit aangebied word, sal erken.
Die US verklaar ook sy bereidwilligheid om sy fasiliteite en infrastruktuur tot die kerk se beskikking te stel. Die Volkskerk van Afrika kan ook, in lyn met die vereistes van die Universiteit, voltydse of deeltydse dosente by die Fakulteit aanstel.
Dr Donald Katts het die ondertekening as ʼn historiese gebeurtenis beskryf en gesê dit staan in teken van sy kerk se jarelange stryd om reg en geregtigheid.
"Dit staan ook in teken van ons verbintenis om die land te bou en op die pad van versoening en menswaardigheid te plaas."
Ds Simon Adams, ʼn voormalige vise-moderator van die Volkskerk van Afrika, het gesê "een van drome wat ons sedert 1972 koester het vandag waar geword."
Prof Hendrik Bosman, waarnemende dekaan van die Fakulteit Teologie, het gesê die Fakulteit is nie net bevoorreg om nou in ʼn besonderse verhouding met die Volkskerk van Afrika te staan nie, maar is ook bereid om ʼn pad saam met die kerk te loop.
Studente van verskillende kerklike denominasies ontvang reeds geruime tyd hul teologiese opleiding – voor- en nagraads – by die US se Fakulteit Teologie.
Die Fakulteit het reeds ooreenkomste met die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Verenigende Gereformeerde Kerk, die Presbiteriaanse Kerk en die Anglikaanse Kerk gesluit.
- Foto: Dr Donald Katts, moderator van die Volkskerk van Afrika, en Prof Wim de Villiers, rektor en vise-kanselier van die US, onderteken die ooreenkoms met prof Hendrik Bosman, waarnemende dekaan van die Fakulteit Teologie, wat toekyk.
- Fotograaf: Anton Jordaan