Skip to main content
Universiteit Stellenbosch fasiliteer die terugbesorging van skoolbanke na die ou Lückhoff-skoolgebou

Universiteit Stellenbosch fasiliteer die terugbesorging van skoolbanke na die ou Lückhoff-skoolgebou

Division for Social Impact
16 Julie 2019

Die plekke waar mense gewerk en gewoon het, die ruimtes waar kinders gespeel het, is grondliggend tot die ontwikkeling van sowel ʼn gemeenskaps- as ʼn individuele identiteit. Die gevoel van behoort, saamwees en gesamentlike deelname aan en deel van aktiwiteite is noodsaaklike elemente in die vorming van identiteit. (Erasmus, 2001:98)  

Die Universiteit Stellenbosch (US) het amptelik verklaar dat die instelling “erkenning gee aan sy bydrae tot die ongeregtighede van die verlede, en daarom verbind is tot gepaste regstellings- en ontwikkelingsinisiatiewe" (Prof Wim de Villiers, Rektor: US, 2016).

In die gees van gemeenskapsherstel en implementering van ʼn praktiese demonstrasie van vergoeding en ontwikkeling gee die US erkenning aan die skoolgemeenskap van 1969, wat, ingevolge die strawwe Wet op Groepsgebiede van 1950, gedwing is om hul geliefde Lückhoff-skool te ontruim en hulle in Idasvallei te hervestig – met skoolbanke en al. 

Die Afdeling Sosiale Impak reik ʼn uitnodiging uit na voormalige leerders van die Lückhoff-skool om hul skoolbanke na die ou Lückhoff-skoolgebou terug te bring in ʼn daad van herstellende geregtigheid. Die terugbesorging kondig die begin van dialoog en betrokke ruimte in die skool aan, waar die hele Stellenbosch-gemeenskap, insluitende die Universiteit, bymekaar kan kom om ʼn gemeenskapsgevoel te herstel. Hierdie inisiatief is gemik op die fasilitering van voortgesette kritiese gesprekke, ruimtes van genesing, herdenking en viering, 50 jaar sedert die pynlike gedwonge verwydering in die lente van 1969.

Kom sluit asseblief by die US vir hierdie geleentheid aan op Saterdag 28 September 2019.

Skakel Ashtrolita Rudolph by [email protected] of 021 808 3645 vir meer inligting of om jou bywoning te bevestig.