Skip to main content

Universiteit Stellenbosch Biblioteek- en Inligtingsdiens sluit aan by die OCLC Navorsings- Biblioteekvennootskap

Bronwyn Bruton
26 Januarie 2016

​Universiteit Stellenbosch Biblioteek- en Inligtingsdiens het onlangs by die OCLC Research Library Partnership (ORLP) aangesluit, die eerste sodanige vennoot in Suid-Afrika.

Wat presies is die OCLC Research Library Partnership (ORLP)? En wat is OCLC?

Die OCLC ORLP is 'n alliansie van eendersdenkende instansies wêreldwyd wat daarop fokus om operasionele prosesse meer doeltreffend te maak en om nuwe vakkundige dienste te ontwikkel. Tans is daar 170 instansies van regoor die wêreld wat aan die ORLP deelneem.

OCLC is 'n wêreldwye biblioteekkoöperatief wat sedert 1967 deur sy lede besit, bestuur en onderhou word. OCLC se doel is om toegang tot die inligting in biblioteke wêreldwyd te verbeter, en om maniere te vind om deur samewerking biblioteke se uitgawes te verminder.

Die ORLP sluit onder andere die volgende opwindende voordele en geleenthede in:

  • Die geleentheid om met soortgelyk gemotiveerde instansies saam te werk om kwessies rondom argitektuur, werksvloei en diens aan te spreek.
  • Uitnodigings na werkgroepe wat fokus op kwessies en behoeftes met 'n hoë prioriteit.
  • Uitnodigings na programme, opvoedkundige geleenthede en simposia.
  • Samewerking met kollegas van oor die hele wêreld en oor sektore heen oor sake van gemeenskaplike belang.
  • Die deel van versamelings en die voortdurende uitbou van die vermoë om hulpbronne te deel.
  • Die verbetering van die bestuur van die kulturele en wetenskaplike rekord.
  • Om by te dra tot die ontwikkeling van die beskrywing van navorsingsinligting.
  • Om voordeel te trek uit pogings om data-ontginning aan te wend om diens en die bestuur van versamelings te verbeter.
  • Aktiewe betrokkenheid by die gesamentlike ontwerp van 'n gemeenskaplike toekoms.

SHARES, 'n groep binne die ORLP wat hulpbronne deel, gee aan studente en personeel van lidinstansies toegang tot die versamelings en dienste van ander lidinstansies op hul persele. Hierdie internasionale vennootskap kan potensieel die plaaslike versamelings in Universiteit Stellenbosch se besit uitbrei en verbeter deur middel van materiaal in besit van vennote wêreldwyd.

Wat sal Stellenbosch Biblioteek- en Inligtingsdiens tot die vennootskap bydra?

Entoesiastiese deelname en betrokkenheid by kollegas van ander instansies sal wedersydse voordeel vir almal in die vennootskap verseker. Om lid te wees van ʼn werkgroep is byvoorbeeld 'n uitstekende manier om te leer en om verhoudings met kollegas by ander instansies te vestig. Die geografiese afstande en tydsones wat die US van die meeste vennote skei, sal wel ʼn kwessie wees, maar die biblioteekpersoneel sal beslis opgewasse wees vir die taak en die geleentheid aangryp. Die potensiële wedersydse voordele van onderlinge samewerking is enorm!