Unieke werksessies lei tot ’n waardering van ons gedeelde menswees
Aan die einde van die Siyakhula-werksessies is daar altyd deelnemers wat sê dit was glad nie wat hulle verwag het nie. Hierdie opmerking word dikwels deur voorstelle gevolg dat meer werksessies op hierdie manier aangebied moet word.Vir Katlego Letlonkane, die dryfkrag agter die Siyakhula-werksessies van die Universiteit Stellenbosch (US) se Afdeling Menslike Hulpbronne (MHB), is hierdie soort terugvoer glad nie ’n verrassing nie. Die werksessies het die afgelope paar jaar talle US-personeellede geïnspireer om anders te dink oor hulle werksomgewing. Siyakhula, wat ‘ons groei’ in isiXhosa beteken, het ten doel om diversiteit en diensbillikheid by die US te bevorder deur geleenthede vir personeeldeelname te skep oor kwessie wat die kern van ons menswees raak, verduidelik Letlonkane.As arbeidsprokureur, navorser oor sosiale geregtigheid en voormalige konsultant in menslikehulpbronnetransformasie, het Letlonkane al verskeie instansies gehelp om verandering, veral mens- en kultuurverwante verandering, mee te bring. Afgesien van haar rol as Programbestuurder: Kapasiteitsontwikkeling by MHB, is Letlonkane ook ’n gewilde radio-aanbieder van SiyakhulaLive op MFM92.6, ’n program waarby studente en personeel van die US aansluiting vind oor kwessies soos diversiteit, sosiale geregtigheid en transformasie. Die ontwikkelingsprogram vir diversiteitskapasiteit is daarop gemik om personeel toe te rus om gelykheidstrategieë, inklusiwiteit en personeelwelstand te modelleer, te begelei en te ondersteun. Die inhoud en fasiliteringsmetodes word in samewerking met MHB Werknemer-welwees, die Transformasiekantoor, die Eenheid vir Gestremdhede en die Eenheid vir Gelykwaardigheid aangebied. Die US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 dien as inspirasie vir die Siyakhula-program. Letlonkane en haar span is baie doelbewus oor die ontwerp van die multidissiplinêre werksessies. “Die fasiliteerders maak seker die werksessies word deur die deelnemers gelei. Die aanbiedings is van so ’n aard dat deelnemers hulleself heeltemal verdiep in die inhoud om transformatiewe, ervaringsgedrewe leer te verseker,” verduidelik sy. Gedurende die Covid-19-pandemie is die meeste werksessies aanlyn aangebied, maar sedert die begin van die jaar het hulle persoonlike bywoning hervat. Letlonkane is baie passievol oor ’n waarde-gesentreerde werksplek. “Dit is die kern van my visie vir die diversiteitswerk. Ons spandeer agt of nege uur per dag saam by die werk en maak op mekaar staat vir vordering in ons werk. Hoe vul ons die gehalte van hierdie verhoudings aan? Gedeelde waardes soos respek en regverdigheid is ’n belangrike aanknopingspunt vir die gesprek. Elkeen het ’n idee van wat dit beteken om gerespekteer te voel. Daarom is respek ’n bousteen vir die waarderaamwerk wat ons gebruik om die gehalte van ons verhoudings aan te vul.”Die werksessies is ook pasgemaak om die ongemak aan te spreek wat sommige mense in ’n proses van verandering voel, merk Letlonkane op. “Sommige mense is tevrede met die status quo, terwyl ander kollegas ongemak in die werksomgewing ervaar. Binne die werksessieruimte gee ons aandag aan hierdie gevoelens sodat deelnemers hulle oopstel vir deelname sonder om te voel hulle word uitgesonder of geoordeel. Dit is ’n kreatiewe proses en ons is almal deel van die proses om die betekenis te vorm.”Verhoogde vlakke van sosiale en kulturele bewussyn help mense om op nuwe en onverwagte maniere gemeenskaplike belange te vind. Ná twee uur van diep gesprekke maak ou hiërargieë plek vir nuwe soorte sosiale kohesie, sê Letlonkane. “Aan die einde van die werksessies het mense betekenisvolle gesprekke met kollegas gehad wat hulle nog nooit vantevore ontmoet het nie. Om oor goed te praat wat regtig saak maak, is ’n kragtige en dapper manier om mure tussen mense af te breek.”Een van die hoofdoelwitte van Siyakhula is om verwante en empatiese verhoudings tussen mense in die US-gemeenskap te bou. Ten einde langtermyn-transformasie te bewerkstellig, is dit belangrik om hierdie vaardighede by mense vas te lê en te verseker dat hulle persoonlik en institusioneel eienaarskap van die visie vir transformasie aanvaar, glo Letlonkane. Elke US-werknemer is kontraktueel verbind tot die US se waardes en die instelling se visie vir diversiteit en transformasie. Een van die redes vir die werksessies se sukses is omdat dit nie op ’n neerbuigende manier gedoen word nie. “Ons respekteer mense se outonomie en dat hulle in beheer is van hulle lewe. Ons ontmoet die mense op die plek waar hulle hulleself bevind en vra dat hulle hulle eie stories vertel. Die bedoeling is nooit om enigiemand se siening af te skiet of hulle van enigiets te probeer oortuig nie. Ons skep net prosesse van nadenke wat mense help om self te ontdek wie hulle in hierdie wêreld wil wees.”Volgens Letlonkane is die US se Siyakhula beslis ’n unieke program. Nie baie universiteite het al hulle diversiteits- en transformasieprogram op so ‘n manier aangebied nie. Siyakhula is ’n model van hoe instellings werknemers se gedeelde menswees kan bevorder deur inklusiewe werksomgewings te skep wat ingebed is in ’n kultuur van luister, gesprek en deernis. “Die Siyakhula-program vergestalt die soort kampus wat die US wil wees. Ons gaan vanjaar nog drie werksessies aanbied en ek sien uit daarna om ons verbintenis te verdiep en meer oor kollegas in die twee uur lange sessies oor uiteenlopende aspekte van ons menswees te leer,” sê Letlonkane. * Die volgende werksessies wat Letlonkane gaan aanbied, sal fokus op hoe die US se waardes die skep van ’n diverse werksplek en -kultuur bemagtig. Bespreek nou jou plek vir Ecare: Values for a Diverse Workplace and Culture wat Donderdag 20 Julie aangebied word deur ’n e-pos te stuur aan Grizelda Adams ([email protected]). Die werksessie word van 10:30 tot 12:30 aanlyn aangebied. Terugvoer van vorige deelnemers:
- “Die werksessie was insigryk en deelnemend. Die onderlinge uitruil van idees en ervarings het myns insiens nie net deelnemers nie, maar ook die fasiliteerder tot voordeel gestrek.
- “Die fasiliteerders het die sessie met soveel welwillendheid en nederigheid aangebied en het toegelaat dat die sessie sy gang gaan soos dit moes. Hulle het almal se deelname en insigte verwelkom. Baie goed gefasiliteer. Daar was ’n spesiale spirituele gevoel in die sessie.”
- “Die fasiliteerders het hulle stories op ’n baie openlike manier gedeel, wat die deelnemers aangemoedig het om ook deel te neem en hulle stories te deel.”
- “Ek stel belang in meer diversiteitsgesprekke en -geleenthede. Ek het baie in hierdie een geleer en wil my perspektiewe verbreed.”