
Ukwanda beïndruk Raad van Provinsies
Afgevaardigdes van die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP) en die Wes-Kaapse Wetgewer het in September besoek afgelê by die Ukwanda Landelike Kliniese Skool (LKS) as deel van hulle Provinsiale Week-aktiwiteite.
Die doel van die Provinsiale Week is sodat die NRVP met provinsies, gemeenskappe en ander rolspelers kan netwerk om te verseker dat provinsiale belange in ag geneem word.
In haar aanbieding aan die NRVP het dr Therese Fish, Visedekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), gesê dat die Ukwanda LKS tot stand gebring is in ooreenstemming met die Universiteit se doelwit om armoede en verwante toestande te help oorkom, en om menslike waardigheid en gesondheid te bevorder.
"By die Universiteit Stellenbosch glo ons dat ons ware bouers van hoop op die Afrika-vasteland is, dat ons baanbrekerswerk verrig met ons wetenskap vir die samelewing-strategie en dat ons van die wêreld se moeilike uitdagings kan aanpak deur ons krag en kennis in diens van menslike behoeftes te gebruik," het Fish die woorde van die Universiteit se voormalige rektor, wyle prof Russel Botman, beklemtoon.
Die Ukwanda LKS erken dat "diegene met die grootste behoefte aan gesondheidsorg die minste toegang daartoe het," het Ukwanda se direkteur, prof Ian Couper gesê.
Hy het verduidelik dat deur opleiding aan mediese en aanvullende gesondheidstudente in landelike gebiede met die grootste gesondheidsorgbehoeftes te bied, die studente meer geneig is om na die areas terug te keer nadat hulle gekwalifiseer het en daardie gemeenskappe te bedien.
Volgens die NRVP-lid Thandi Mpambo-Sibukwana is dit die raad se uitdaging om te verseker dat die regering 'n rol in die sukses van hierdie broodnodige intervensie vertolk.
Die voorsitter van die NRVP se staande komitee oor Kommunikasie en Openbare Ondernemings, Ellen Prins, het opgemerk: "Ukwanda het my oë oop gemaak. Nou sal gesondheidspraktisyns die skakel tussen siekte en sosiale faktore verstaan. Die Komitee van Opvoeding en dié van Gesondheid het 'n gedeelde mandaat om by te dra tot die ontwikkeling van wetgewing wat die Ukwanda Landelike Kliniese Skool se werk bevorder."