
Tuiskoms 2018: Matieland roep!
Dit is weer daardie opwindende tyd van die jaar. Die Universiteit Stellenbosch (US) se Maties Tuiskomsnaweek vir alumni vind van 1 tot 5 Maart 2018 op ons skilderagtige Stellenboschkampus plaas, en vanjaar beloof om ekstra spesiaal te wees terwyl die US sy Eeufeesjaar herdenk. Daar is verskeie geleenthede beplan, spesiaal vir jou. Hier is jou kans om tyd met ou vriende te spandeer, daardie wonderlike studentedae te herleef, en aan 'n verskeidenheid opwindende aktiwiteite by jou alma mater deel te neem.
Dit is waarna jy kan uitsien:
Op 1 Maart kan jy deelneem aan 'n kunswandeling deur die kleurryke Stellenbosch om gemeenskap en kuns te vier waar jy ook en 'n aand van pragtige besienswaardighede en klanke kan beleef. Ons laaste uitspan op die wandeling is die US Museum in Ryneveldstraat vir 'n skemerkelkie, canapés en ligte vermaak, so moet dit nie misloop nie.
Op 2 Maart word jy trakteer met ons Tuiskoms Eeufeeskonsert. Verwag 'n heerlike makietie van vroeg tot laat, propvol musiek en heerlike verrassings. Kunstenaars sluit in die US Jazz Band, Laurika Rauch, Gloria Bosman, Tim Moloi, Coenie de Villiers, Valiant Swart, ons eie wêreldbekende US-koor, Arno Carstens, Brandon October, sowel as J'Something en Micasa. Daarbenewens het ons 'n spesiale BBP-area vir uitgekose gouesirkel-kaartjiehouers ingerig.
Die feesvieringe gaan voort op 3 Maart by ons Tuiskoms Pretdraf Veldtrap met Woorde op Coetzenburg. Bring jou gesin, jou vriende en jou troeteldiere. Kom vul jou longe met vars lug en strek jou bene. Loop, draf of stap saam met ons langs Stellenbosch se mooiste bergpaadjies.
Ook op 3 Maart bied ons ons Familiedag vanaf 10:00 aan. Verwag 'n feestelike dag van musiek, lekker kos en eersteklasvermaak, wat oor twee verhoë strek. Bring jou eie stoele en komberse en maak jouself gemaklik voor ons buitelugkonserte begin. Ons beloof 'n vreugdevolle en veilige familiedag met stalletjies, 'n karnaval vir die kleintjies, en 'n bier- en wyntent vir volwassenes. Hierdie pretfamiliedag bied beslis waarde vir geld. Spasie is beperk, so bespreek vandag nog by Computicket.
Op Maandag, 5 Maart, kan sportliefhebbers uitsien na 'n opwindende rugbygeleentheid wanneer die US se Maties Rugby-span en die Universiteit van Kaapstad se Ikeys mekaar by die Danie Craven-stadion pak. Kom kuier gerus in die spesiale alumni-tent by Die Stal voor en na die wedstryd vir drankies. Al die opbrengste gaan na die Maties4Maties-beursfonds. Kaartjies vir die wedstryd is by www.varsitycup.co.za beskikbaar.
Op Maandag, 5 Maart, volg daar ook 'n reeks besprekings in samewerking met die Frederick Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskap wat deur Tim du Plessis gefasiliteer word. Van die onderwerpe wat bespreek word, sluit in die etiek van hartoorplantings; genadedood en die reg om te kies; geslag, godsdiens en die kunste; jeug- en jeugwerkloosheid; die vierde industriële rewolusie; en 'n reeks aktuele kwessies. Onthou, spasie is beperk, so bespreek vroegtydig.
Vir diegene wat ná 5 Maart in Stellenbosch wil aanbly, is daar nog baie meer om te doen. Geniet nog Woordfees-vertonings (met spesiale alumni-afslag op 'n wye verskeidenheid vertonings), gaan beleef die Dagbreek Straatmylfees op 6 Maart, of woon Sonop Koshuis se reünie op 10 Maart by. Ondersteun asseblief ons Rektor, prof Wim de Villiers, en 'n span van 100 alumni en vriende op 11 Maart by die Kaapse Fietsrytoer waar hulle as deel van die US se Eeufeesaktiwiteite 109 km gaan trap om geld vir Maties-beurse in te samel.
Ons het slegs 'n paar opwindende geleenthede uitgelig om jou in die regte luim te kry. Besoek asseblief www.matiesalumni.com vir meer inligting oor hoe om vir hierdie geleenthede te bespreek. Volg die US op sosialemedia-platforms soos Facebook, Instagram en Twitter vir die jongste inligting oor al ons aktiwiteite tydens hierdie spesiale Eeufeesjaar.
ʼn Spesiale verwelkomingsarea vir alumni is tydens die Tuiskomsnaweek by die US-museum in Ryneveldstraat, Stellenbosch, ingerig. Kom maak gerus 'n draai en kry jou spesiale komplimentêre Eeufeesherdenkingspeld vir alumni daar.
Daarbenewens ontvang jy as 'n US-alumnus 'n spesiale afslag op geselekteerde Woordfees-vertonings in 2018 as deel van ons eeufeesaktiwiteite. Vul eenvoudig jou US-nommer in wanneer jy via Computicket bespreek.
- Foto: Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling & Alumni-betrekkinge en prof Wim de Villiers, Rektor & Visekanselier. (Fotograaf: Stefan Els)