Skip to main content
Topstudente leer van sakeleiers

Topstudente leer van sakeleiers

Ronel Beukes
10 Oktober 2017

​Deelnemers aan die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se OPTIMUS-program het op 9 Oktober bymekaargekom vir 'n spesiale geleentheid met die tema 'Aan die voete van 'n leier'.

Studente kon aan die voete sit van me Stephanie van der Westhuizen (bedryfshoof: The Centre of Financial Regulation and Inclusion), prof Rachel Jafta (ekonomieprofessor en voorsitter: Media24), mnr Daniël Kriel (uitvoerende hoof: Sanlam Private Wealth), en dr Morné Mostert (direkteur: Instituut vir Toekomsnavorsing) om vrae te vra en van hulle te leer.

Die twee jaar lange OPTIMUS-program is in April 2016 van stapel gestuur met die doel om die voorgraadse toppresteerders van die fakulteit op hul akademiese reis te ondersteun. Die program is veral op die volgende vyf komponente gemik: akademiese verryking; selfontwikkeling en leierskap; professionele en beroepsoriёntasie; sosiale impak; 'n globale uitkyk en innovering. Twee jaargroepe – tweede- en derdejaarstudente – van nie meer as 60 tot 66 studente neem op enige gegewe tydstip deel.

“Ons hoop dat die stimulerende omgewing wat ons deur middel van noukeurig beplande ontwikkelingsintervensies en geleenthede skep, daartoe sal lei dat studende holisties sal ontwikkel en in staat sal wees om hulself ten beste te posisioneer om te kwalifiseer vir prestigeryke beurse, internasionale uitruil- en ander geleenthede, beide plaaslik en in die buiteland," het dr Suzanne van Aswegen, programbestuurder van die OPTIMUS-program gesê.