Skip to main content
Topklasmatrieks stroom na Maties

Topklasmatrieks stroom na Maties

Daniel Bugan
10 Februarie 2022

​Verskeie leerders van oor die hele Suid-Afrika wat in 2021 in matriek uitgeblink het, het die Universiteit Stellenbosch (US) as hulle voorkeurinstelling vir verdere studie vanjaar gekies.

Onder diegene wat Maties word, is Chané Nel, die Vrystaat se topmatrikulant; Laai'qah Bedford, wat eerste in die Oos-Kaap geëindig het, en Matthew Holm, die Noord-Kaap se nommer een.

Geen towerresep nie, net harde werk

Chané, wat by Oranje Meisieskool skoolgegaan het en 'n gemiddeld van 96% en nege onderskeidings behaal het, skryf haar sukses toe aan volgehoue harde werk. “Ek het my punte behaal deur elke dag hard te werk," sê sy. “Ek het seker gemaak dat ek elke dag se stuk werk leer sodat dit nie teen die eksamentyd ophoop nie."

Sy sal haar by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aansluit, want om 'n dokter te word sal haar 'n geleentheid bied om twee van haar grootste belangstellings na te jaag – die wetenskap, en interaksie met mense. “Dis nogal moeilik om hierdie twee belangstellings in 'n loopbaan te kombineer," verduidelik sy. “In die meeste wetenskaplike rigtings het jy weinig met ander mense te doen. En die meeste loopbane wat van jou verwag om baie te praat, soos die regte, het weer niks met die wetenskap te doen nie. Geneeskunde is die volmaakte kombinasie, want ek sal oor die wetenskap, biologie en anatomie leer, maar sal ook as 'n arts met pasiënte kan omgaan."

Wil graag nuwe mense ontmoet

Laai'qah, 'n oudleerder van die Hoërskool Hudson Park, spog met 'n gemiddeld van 95% en agt onderskeidings – 'n prestasie wat sy reken grootliks aan tydsbestuur te danke is. “Ek het my weke en dae tot in die fynste besonderhede beplan. Ek het ook heelwat blaaskanse geneem tussen my studie deur om te keer dat ek uitbrand. 'n Gebalanseerde lewe is 'n moet om geestelik gesond te bly en op jou studie te kan konsentreer. Ondersteunende vriende en familie sowel as geloof in myself het ook 'n rol in my sukses gespeel."

Sy sal vir 'n graad in Aktuariële Wetenskap aan die US studeer. “Ek het hierdie kursus gekies, want dit hou sterk verband met wiskunde, en ek het 'n groot passie en liefde vir syfers," verduidelik sy haar programkeuse. “Ek glo 'n loopbaan op hierdie gebied sal in die toekoms vir my baie deure oopmaak."

Oor die vooruitsig om aan die US te studeer sê die Oos-Londenaar: “Ek sien veral daarna uit om nuwe mense te ontmoet en die dorp te verken, want ek was laas daar toe ek 'n baba was. Ek wil ook graag ervaar hoe dit is om weg van die huis af te woon." 

US sedert hoërskool sy “voorkeuruniversiteit"

Matthew het aan die Hoërskool Kathu gematrikuleer met 'n gemiddeld van 92,44% en sewe onderskeidings, en sê konsekwentheid was die grootste faktor in sy akademiese sukses. “Na my mening is konsekwentheid een van die moeilikste dog kragtigste vaardighede om te bemeester," sê hy. “Ek het ál my take die hele jaar deur baie ernstig opgeneem, selfs dié wat nie vir my lekker was nie. Die moeite wat jy deur die jaar doen, is wat jou deur daardie weke van die matriekeindeksamen dra."

Hy sal vir die graad BSc Datawetenskap inskryf, want “dit strook met my belangstellings en sal my heel waarskynlik eendag uitstekende loopbaangeleenthede bied". Hy sien daarna uit om aan die US te studeer, want dit is al sedert hoërskool sy voorkeuruniversiteit.​