Skip to main content
TB bly dalk in longe na ‘genesing’

TB bly dalk in longe na ‘genesing’

FMHS Marketing & Communications
16 September 2016

Navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) het bewyse gevind wat daarop dui dat die bakterieë wat tuberkulose veroorsaak (Mycobacterium tuberculosis) dikwels in die longe agterbly na afloop van suksesvolle behandeling.

Hierdie navorsing is onlangs in die joernaal, Nature Medicine, gepubliseer.

Die studie, wat deur die Immunologie Navorsingsgroep by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) gedoen is, het die longareas met inflammasie gemonitor in 99 MIV-negatiewe volwassenes in Kaapstad wat met TB gediagnoseer is. PET/GT-skandering (gevorderde beelding wat die areas met inflammasie uitbeeld) wat tydens en na behandeling gedoen is, het getoon dat slegs 14% van die pasiënte geen inflammasie in die longe oorgehad het nadat hul behandeling voltooi is nie.

In 86% van die pasiënte was daar 'n paar letsels met aktiewe inflammasie, en in ongeveer 'n derde van die pasiënte was daar nuwe of verergerde letsels, ten spyte daarvan dat die meeste van die pasiënte genees is. Pasiënte word as genees beskou wanneer hulle simptome na afloop van hul behandeling verbeter het en as daar geen TB-bakterieë in hul sputum opgetel word deur standaard toetse nie.

"Vroeëre navorsing het getoon dat TB-bakterieë 'n merkwaardige vermoë het om te oorleef, selfs nadat antibiotika toegedien is, en dat hierdie hardnekkige bakterieë baie moeilik is om op te spoor en te vernietig," sê die hoofnavorser, Dr Stephanus Malherbe van die FGGW se Immunologie Navorsingsgroep. Die studie is gedoen in samewerking met navorsers van die Catalysis Stigting vir Gesondheid, Rutgers New Jersey Mediese Skool, Stanford Universiteit Mediese Skool, en die National Institutes of Health in die VSA.

In baie van die pasiënte is bewyse van TB gevind (in die vorm van bakteriële mRNA) in die sputum en vloeistof wat bekom is deur longspoelings. "mRNA is 'n soort nukleïensuur wat geproduseer word deur metabolisme, en gaan vinnig tot niet. Die teenwoordigheid daarvan dui moontlik daarop dat daar steeds lewendige bakterieë in die long is nadat die pasiënt klinies suksesvol behandel is," verduidelik Malherbe.

"Hierdie nuwe bevindinge is verrassend en dui op die baie belangrike rol wat die liggaam se immuunrespons speel om enige oorblywende lewendige bakterieë te onderdruk en uit te wis na afloop van die behandeling. Dit dui daarop dat behandeling wat die immuunrespons 'n hupstoot gee, moontlik behandelingsuikomste in die toekoms kan verbeter," sê Malherbe.

Tuberkulose is 'n groot oorsaak van sterftes en gestremdheid regoor die wêreld. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie, was daar in 2014 9.6 miljoen nuwe TB gevalle, en 1.5 miljoen sterftes wêreldwyd . Die standaard-behandelingstydperk vir TB is ten minste ses maande op verskeie antibiotikas, maar dit kan langer duur as die pasiënt middelweerstandig is, wanneer ander organe as die longe aangetas word, of as pasiënte stadig reageer op behandeling.

Ten spyte daarvan dat behandelingsprogramme hoogs effektiewe en langdurige behandeling aan die meeste bied pasiënte, is swak uitkomste steeds 'n probleem. Dit sluit in mislukte behandeling, insinking na genesing, en blywende longskade.

Daar is wêreldwyd pogings om TB-opsporing, -behandeling en -voorkoming te verbeter, met behulp van byvoorbeeld snel-diagnostiese toetse, nuwe en meer effektiewe middels wat behandling sal verkort, en inenting.

Foto: www.wikipedia.org