
Switserse én US-studente baat by nuwe Kort program
As deel van die viering van 30 jaar van internasionalisering by die Universiteit Stellenbosch (US), het US Internasionaal 'n nuwe studente-kort program met die Universiteit van St Gallen, Switserland, van stapel gestuur. Die tweeledige aanbod het in April 2023 begin met 'n tien dae lange besoek aan Suid-Afrika deur 20 studente van St Gallen. Dertien US-studente sal later vanjaar op hulle beurt na St Gallen reis.
Om internasionalisering tuis aan te moedig, is interns by US Internasionaal en deelnemers aan die Matie Buddy-stelsel genooi om hulle by die groep op hulle Suid-Afrikaanse avontuur aan te sluit. Hulle tyd saam het lesings, gesprekke oor wêreld- en nasionale kwessies, kulturele aktiwiteite en besigtigingstoere ingesluit.
In die lesingkomponent het prof Nox Makunga van die Departement Biotegnologie die studente van haar werk oor geneeskragtige plante en die Wes-Kaapse biodiversiteit vertel. Die akademiese inhoud is aangevul met 'n staptog na die Stellenbosse natuurarea Paradyskloof, waar studente aan van die plante waarvan hulle geleer het, kon vat, ruik en proe.
'n Inleiding tot Suid-Afrika se politieke geskiedenis het die Switserse studente se belangstelling geprikkel en terselfdertyd hulle plaaslike eweknieë 'n geleentheid gebied om hulle menings oor en hoop vir die land uit te spreek. Die insiggewende lesing het die groep met die kennis en begrip toegerus om hulle daaropvolgende besoek aan Robbeneiland ten volle te waardeer.
Die lesing oor sake in Suid-Afrika het 'n besoek aan KWV in die Paarl en die wynlandgoed Babylonstoren in Simondium ingesluit, waar prof Chris Pentz en Anika Berning van die Departement Ondernemingsbestuur die studente waardevolle inligting oor die plaaslike sakelandskap gegee het. Aangesien die meeste van die Switserse studente in sakerigtings studeer, het hierdie lesing hulle oë oopgemaak vir sake buite hulle landsgrense.
Die Switserse deelnemers was nie die enigstes wie se horisonne verbreed is nie. Volgens Bradley Grovers, een van die Matie Buddy-deelnemers wat die ervaring meegemaak het, het die program hom “'n ander begrip en 'n nuwe siening van baie van ons plaaslike politieke en maatskaplike kwessies gegee". Die plaaslike studente is dit eens dat hoewel hulle heelwat oor Switserland geleer het, die program ook daarin geslaag het om hulle attent te maak op aspekte van Suid-Afrika waaroor hulle nooit voorheen werklik nagedink het nie.
Skone Stellenbosch betower Switsers: Die 20 Switserse studente van die Universiteit van St Gallen en eweknieë van die Universiteit Stellenbosch wat in April aan US Internasionaal se nuwe studente-uitruilprogram deelgeneem het. Die tien dae lange Suid-Afrikaanse komponent van die program het 'n aantal lesings en uitstappies ingesluit (sien foto's hier onder). Dertien US-studente sal later vanjaar St Gallen besoek.