Skip to main content
Studente: Vordering ná week 2 van aanlyn-leer-en-onderrig

Studente: Vordering ná week 2 van aanlyn-leer-en-onderrig

Prof Wim de Villiers​: Rector and Vice-Chancellor / Prof Stan du Plessis: Chair ICBC
30 April 2020

​30 April 2020

Beste studente

Op die vooraand van die eerste nasionale risiko-aanpassing sedert die begin van die tydperk van algehele inperking (van vlak 5 na vlak 4), wil ons graag ons Universiteit Stellenbosch-gemeenskap op hoogte bring ná ons tweede week van aanlyn-leer-en-onderrig.

Gedurende die verlengde resestydperk vir studente het ons personeel aan die menigte fasette van aanlyn-leer-en-onderrig – die enigste haalbare opsie vir die voortsetting van die akademiese program onder die huidige omstandighede – gewerk. Van 20 April af het ons van beplanning tot implementering oorgegaan, met die eerste geleentheid om ons stelsels en prosesse te toets.

Aflewering van skootrekenaars

Sover is 728 skootrekenaars by studente afgelewer wat hul deelname aan die skootrekenaar-leningsinisiatief bevestig het. Ongelukkig is sommige aflewerings weens beperkinge wat deur die inperking-regulasies teweeg gebring is, vertraag, en in sommige gevalle omdat studente onvolledige inligting verskaf het. Die laaste aflewerings sal egter na verwagting binne die volgende paar dae geskied.

Databondels

Die Universiteit Stellenbosch het die laaste week en gedurende die Vryheidsdag-langnaweek databondels vir vier selfoondiensverskaffers (CellC, MTN, Telkom en Vodacom) per e-pos en twee SMS-boodskappe vir ons studente aangebied. Dit is beklemtoon dat studente die aanbod moes aanvaar en die korrekte kontakbesonderhede in 'n baie spesifieke formaat moes voorsien om te verseker dat versoeke digitaal vasgelê kon word.

Die Universiteit is baie bly dat ons data aan die groot aantal studente wat betyds en korrek gereageer het, kon verskaf. Studente wie se aansoeke suksesvol was, sal hul databondels oor die volgende paar dae ontvang.

Die US moes die aansoeke verwerk en dit in een bondel studentenommers aan die selfoonnetwerkverskaffers (MNO's) verskaf om die databondels vir die volgende maand te aktiveer. Indien jy aansoek gedoen het, maar nog nie 'n databondel ontvang het nie, was jou aansoek moontlik in die verkeerde formaat. Ongelukkig het 'n groot groep studente nie gereageer nie, of met onvoldoende besonderhede gereageer. Ons het gehoop dat die verskillende skrywes, insluitende plasings op Facebook en Twitter, akkurate reaksies sou verseker. Die US het sy bes probeer om die data uit die verkeerde formaat te onttrek, maar hierdie onvolledige aansoeke kon egter nie op ons stelsel vasgelê word nie

 Die aanbod vir gratis databondels vir Mei is nou gesluit, aangesien die MNO's nie bykomende aansoeke oor die volgende 30 dae sal verwerk nie. Die studente het ongelukkig hierdie geleentheid misgeloop en die US sal nie enige verdere korrespondensie hieroor voer nie.

Gratis toegang tot SUNLearn

Ongeag of studente die Universiteit Stellenbosch se aanbod vir data-toekenning aanvaar het of nie, sal die gratis toegang tot SUNLearn en ander US-digitale platforms geld. Studente sal selfs sonder databondels toegang tot SUNLearn teen minimum datakoste kan verkry. Die inligting oor die gratis toegang tot webwerwe, insluitende SUNLearn, word gereeld bygewerk – klik hier vir die jongste inligting. Bestuur asb die data verantwoordelik en gebruik dit slegs vir aanlyn-leer en assesserings. Vergewis jouself asb dringend van die wenke om selfoonkostes te spaar indien jy dit nog nie gedoen het nie.

Verskaf jou nuutste kontakbesonderhede

Gegewe die heersende onsekerhede, kan ons verwag dat gereelde en selfs dringende kommunikasie in die komende maande aan personeel en studente gestuur gaan word. Ek doen dus 'n dringende beroep op jou om te verseker dat jou selfoonnommer op datum bly op die US se studentedatabasis. Dit bly jou verantwoordelikheid om jou kontakbesonderhede hier by te werk en om te verseker dat jy altyd dieselfde selfoonnommer vir amptelike kommunikasie verskaf.

Dit is ook belangrik om alle e-poskorrespondensie van die Universiteit Stellenbosch te lees. Korrespondensie sal aan jou studente-e-posadres wat aan jou studentenommer gekoppel is, gestuur word.

Herstel van die stabiliteit van SUNLearn

Ons is bewus van die uitdagings wat met die stabiliteit van die SUNLearn-platform ondervind is en ons deel jul frustrasies hieroor. Ons wil julle vra om geduldig te wees terwyl ons IT-afdeling voorkeuraandag aan die onderliggende tegniese kwessies gee.

MEESTERS- EN DOKTORALE STUDENTE

  • Bykomende datum vir indiening van navorsing-meestersgraadtesisse en doktorale proefskrifte

'n Buitengewone reëling is vir meesters- of PhD-kandidate getref wat op koers was om in Desember 2020 of Maart 2021 te gradueer, maar wat tyd verloor het weens die COVID-19-tydperk van algehele inperking (omdat hulle byvoorbeeld nie toegang tot primêre of sekondêre bronne kon kry nie).

In ooreenstemming hiermee is 'n spesiale sperdatum van 1 Maart 2021 vir indienings goedgekeur. Kandidate wat hierdie opsie kies, sal ná konsultasie met hul promotors vir die 2021-akademiese jaar moet herregistreer, maar sal nie klasgelde vir die graad wat in 2021 geëksamineer sal word, hoef te betaal nie. Hierdie kwytskelding sal slegs vir kandidate wat hul tesisse of proefskrifte teen 21 Maart 2021 indien en vir die toepaslike graad geld. Enige uitstaande gelde vir 2020 sal steeds betaalbaar wees. Let asb daarop dat die indieningssperdatums vir tesisse en proefskrifte in ooreenstemming met die aangepaste US-kalender steeds vir diegene wat in Desember 2020 en Maart 2021 wil gradueer, geld.​

  • Elektroniese indiening en verspreiding van nagraadse tesisse en proefskrifte

Die regulasie vervat in Deel 1 (Algemeen) van die 2020-kalender vir nagraadse tesisse en proefskrifte bepaal dat tesisse en proefskrifte óf in harde kopie óf in elektroniese formaat ingedien kan word, afhangende van die betrokke opsiener(s) of eksaminator(s) se voorkeur. Vir die res van 2020 is hierdie regulasie aangepas om die elektroniese indiening en verspreiding van tesisse en proefskrifte verpligtend te maak.

Bestuur gedurende 'n tydperk van ontwrigting

Terwyl hulle aanlyn-leer-en-onderrig en die voortgesette verskaffing van ondersteuning aan ons studente wat in ons koshuise en private verblyf agtergebly het, implementeer, is die verskillende bedryfstrome van die Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) hard besig om vir moontlike scenario's wat in die komende maande mag voorkom, te beplan.

Terwyl daar steeds verskeie onsekerhede is, skenk ons oorweging aan verskeie moontlike opsies, soos hoe ons byvoorbeeld studente in 'n gefasseerde benadering na die kampus kan laat terugkeer terwyl ons voorkeur gee aan graadprogramme wat kliniese rotasies of praktiese assessering vereis om die 2020-akademiese jaar suksesvol te voltooi. Dit is een van talle scenario's wat tans deur die IKBV oorweeg word, insluitende 'n scenario waar die US die eerste semester ten volle aanlyn voltooi, met 'n gefasseerde terugkeer na kampusse vanaf Julie; 'n scenario waar daar in Oktober 2020 na kontakonderrig teruggekeer word; en selfs 'n scenario waar die hele 2020-akademiese jaar voltooi sal word sonder dat studente na ons kampusse terugkeer.

Ek wil beklemtoon dat al hierdie opsies deel is van moontlike scenario's wat tans oorweeg word om ons beplanning te fasiliteer. Hulle bly almal onderhewig aan nasionale regulasies en risikobepalings by die US. Selfs al sou die nasionale regulasies studente in beginsel toelaat om na kampusse terug te keer, bly dit die Universiteit Stellenbosch se verantwoordelikheid om te verseker dat die gesondheid en welstand van personeel, studente en die plaaslike gemeenskap met so 'n terugkeer in ag geneem word. Dit mag vereis dat studente wat na die kampus terugkeer, vir tot twee weke voor die aanvang van lesings onder kwarantyn bly. Selfs dan sal streng gesondheidsprotokols en beperkte beweging geld. Studente moet slegs na ons kampusse terugkeer wanneer hulle amptelike kommunikasie in hierdie verband van die US ontvang.

Ter afsluiting

Om in algehele inperking te wees, het afstand tussen ons en die werklikhede van ander mense geskep, wat ons laat vergeet dat ons almal onder dieselfde beperkings funksioneer. Die IT-maatskappy en koerierdiens wat ons met die aflewering van skootrekenaars bystaan, kan nie op volle sterkte opereer nie en net soos ons almal, moet hierdie maatskappye ook aan die regering se regulasies gehoor gee om die veiligheid van hul werknemers te verseker.

Om onder die huidige omstandighede geduldig en positief te bly, is waarskynlik een van die grootste uitdagings vir ons almal. Die omstandighede mag soms oorweldigende voel, maar onthou dat ons studente verskeie ondersteuningsdienste tot hul beskikking het gedurende die algehele inperking. Raadpleeg asb die COVID-19-webblad vir meer inligting.

 Vriendelike groete

Prof Wim de Villiers: Rektor en Visekanselier                                                                            

Prof Stan du Plessis: Voorsitter: IKBV ​​